Monday 7 March 2016

Links of regs

1 Petrus 5 : 9  Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.

Ek het ‘n T-aansluiting in my lewe bereik.  Hierdie punt is bereik nadat ek baie lank vir ‘n uitkoms gebid het.  God het my egter nie die maklike uitweg gegee deur presies te laat gebeur waarop ek gehoop het nie.  Nee, hy bring my by hierdie punt waar ek moet besluit of ek links of regs gaan draai.  Gaan ek links, is alles min of meer vir die volgende twee jaar heel gemaklik in my lewe.  Gaan ek regs, moet ek God vertrou.  Oor die afgelope weke het God my genoeg verseker ‘dat Hy weet presies wat ek nodig het’ of dat ‘Hy sal sorg’ of dat Hy ‘net goeie planne vir my het’.  Alhoewel ek redelik impulsief is, neem ek sekere besluite nie blindelings nie.  So gaan my gedagtes met my op hol en begin vrees die oorhand kry. 

Ek weet dat jy die oomblik dat jy vrees ervaar, dit moet teenstaan.  Jy moet onmiddellik reageer.  Sou jy dit nie doen nie, gaan jou verstand oorneem en voor jy jou kom kry sal jy meer as genoeg logika ontwikkel om jou net daar vas te vang.

Toe God vir Dawid gesê het om teen Goliat te gaan veg, het Dawid vining na die slagveld gegaan.  Dis duidelik dat Dawid nie ruimte gelaat het vir enige gedagtes om pos te vat nie.  Hy het eenvoudig nie toegelaat dat vrees sy hart in ‘n greep vasvat en hom daaruit probeer praat nie.  Dawid het eenvoudig gedoen wat God van hom verwag het.

Indien ek verder gaan probeer om sin te maak uit die situasie, gaan ek vir altyd hier bly.  Ek weet waartoe ek in staat is… ek weet dat alles wat ek tot hier in my lewe gedoen het, my toegerus het om ‘n sukses te maak van die regsdraai. Ek weet ook dat God my nie in die steek sal laat nie.  Wat egter gebeur is dat die vyand elke keer toeslaan dat ek sin in hierdie keuse sien en nog erger, ek laat dit toe.


Wat staan my te doen?  Ek moet God gehoorsaam, die vrees teenstaan en eenvoudig doen wat Hy van my verwag.  Hy het my tot hier gebring, en Hy sal my deursien.  Net soos wat Hy met Dawid was, sal Hyo ok met my wees.  Here, in geloof gooi ek die kettings van vrees af en draai ek regs.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...