Thursday 12 May 2016

Geloof sonder werke

James 2 : 20  Geloof sonder werke is dood

Hoe leef jy jou geloof uit?  Wat doen jy wat sal maak dat ander mense jou as ‘n gelowige beskou? Ons kan nie net glo nie.  Ons moet ook die daad by die woord voeg.

Ons leef seker in die moeilikste tyd vandag.  Buiten misdaad, korrupsie, werkloosheid, armoede, ens, ens, ens… is daar ook nog ‘n selfsugtigheid onder die ou mensdom.  Elkeen is net op sy of haarself ingestel en net die eie ek se behoeftes is belangrik.  Mense voel vere vir hul naaste… wel meeste mense. 

Daar is ‘n klein handjievol wat regtig probeer goed doen sonder om enige eer vir hul selfloosheid te verwag.  Maar daar is ook baie instansies wat hul deure moet sluit omdat daar eenvoudig nie meer ondersteuning is vir hul saak nie.  So byvoorbeeld hoor ek onlangs van ‘n inrigting vir verstandelik gestremdes wat binnekort hul deure sluit.  Die inwoners se familie moet hulle kom haal.  Hoeveel van daardie familie gaan hul met liefde haal en versorg?  Hoeveel ou mense word uitgebuit vir hul pensioen of kinders vir hul kindertoelae?

Ons mag nie ‘n blinde oog keer of dink dat ons hul net van die wal in die sloot gaan help nie.   Jy hoef nie geld te gee nie.  As jy weet van iemand wat swaarkry, laat ‘n supermark ‘n paar sakke kruideniersware by hul aflewer.  Ek hoor onlangs van ‘n bekende organisasie in Johannesburg wat boekies met eetbewyse verkoop. Jy kan dan ‘n blaadjie uitskeur en daarmee kan ‘n hawelose ‘n maaltyd geniet.  Ons hoef nie ver te soek nie. Daagliks skuur ons skouers met behoeftiges.


Miskien kan jy vandag die antwoord op iemand se gebede wees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...