Sunday 12 June 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11 'n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.

Elke mens het ‘n “hot button”.  Party het ‘n hele paar.  Myne is mense wat in die verkeer indruk terwyl dieselfde duur brandstof uitluier.  Ek weet al presies waar mense oor afritte glip en voor gaan indruk, of in ‘n afdraai baan ry en op die laaste nippertjie by die hoofbaan indruk.  Glo my, ek het empatie met mense wat hul in die vorm van ‘road rage’ te buite gaan.  Sou dit enige iets verander het as ek byvoorbeeld my humeur sou verloor en iets onbesonne aan daardie motoris gedoen het?  Nee, hoegenaamd nie.  Sulke mense is selfsugtig gebore en dink heelwaarskynlik dis hul reg om so op te tree. 

Jy sien, die lewe is vol gebeurtenisse wat ons kan frustreer of ontstel.  Miskien het jou planne nie uitgewerk soos jy wou hê dit moes nie of dalk het iemand jou seergemaak met ‘n opmerking.  Of dalk het jy ‘n taak aangepak wat jy vanoggend sommer gou-gou moes afhandel en jy sukkel nog steeds.  Ons kan nie alles beheer nie, maar ons kan beheer hoe ons daarop reageer. 

Gaan elke dag tegemoet met ‘n positiewe houding, vol hoop en verwagting op God se goedheid.  Terselfdertyd moet jy besef dat alles nie altyd seepglad kan of sal verloop nie.Ons is egter geskep om in vrede te leef.  Vrede is ‘n magsposisie.  As iemand vir jou kwaad is en jy reageer nie, behou jy jou magsposisie.   


Om terug te kom na my situasie in die verkeer… Ek het besluit dat sulke motoriste my vrede steel.  Hulle lok my uit en kry dit reg om my te laat reageer.  Om my ‘mag’ en gemoedsrus terug te kry,  sorg ek dat ek in die ver regse baan bestuur sodat hul gedrag my nie ontstel nie.  Dis my vrede en ek weier om dit af te staan.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...