Tuesday 21 June 2016

Jou woorde

Deuteronomium 30 : 19  Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

Jy weet dat daar krag in jou woorde skuil. Deur dit wat jy spreek, kan jy jou toekoms seën of benadeel.  As jy wil weet hoe jou lewe vyf jaar van nou daarna gaan uitsien, luister na dit wat jy vandag oor jouself sê. 

Wanneer jy sê: “ek is so diep in die skuld, ek sal nooit hieruit kom nie” of “ekis  sielsongelukkig, egskeiding is al uitweg” of selfs “dis winter, so ek sal seker weer griep kry”, dan kan jy maar weet dis wat gaan gebeur.  Stel jouself nou die teendeel voor.  “Volgende jaar hierdie tyd, gaan ek skuldvry wees.”  “God het ons saamgevoeg, en daarom sal ons huwelik hierdie krisis deurstaan.”  “Ek weet nie wanneer laas ek verkoue gehad het nie, en ek gaan ook nie hierdie jaar siek word nie.”

Baie van ons wonder hoekom ons net nie ‘n deurbraak kan kry nie, maar dit is omdat ons nie sê:  ”my deurbraak is hier nie.”  As jy aldag en heeldag vir ‘n kind vertel hy’s dom of stout, gaan daardie kind dit glo.  Dieselfde geld vir jou.  Nie net moet jy positief op die lewe en ander ingestel wees nie, maar veral teenoor jouself. Glo in jouself, glo in jou toekoms en vermoëns, want God het jou die mag gegee om lewe te spreek.  God se guns rus op jou.  Jy is nie ‘n mislukking nie. Jy is ‘n oorwinnaar.

Dit is hoe jy jou lewe omkeer.  Verklaar in geloof:  “Dit gaan ‘n uitstekende dag wees. God is deel van my toekoms en Hy rig my voetstappe, daarom gaan goedheid en guns my metgesel vir die toekoms wees.”

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...