Monday 20 June 2016

Laat gaan

Jesaja 43 : 18      Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie

Ons weet dat teleurstelling en mislukking nie ons lewenspad kruis omdat ons nie genoeg geloof het nie.  Hierdie dinge wat met ons gebeur is soms groot en soms net ligte irritasies.  G’n mens se lewe is altyd maanskyn en rose nie.  Dit sit ons miskien ‘n paar tree terug, maar dit behoort ons nie te ontmoedig nie.  Ja goed, jy wou baie graag ‘n eie huis koop en toe keer die bank die lening af.  Of jy doen aansoek vir ‘n beter pos, maar iemand anders kry dit.  Jy ontmoet iemand en aanvanklik lyk dit asof dit jou huweliksmaat is, maar helaas die persoon se ware kleure begin wys en die verhouding loop dood.  Dalk is dit meer ernstig soos ‘n motorongeluk, siekte of om iemand aan die dood af te staan? 

Dit is hier waar vandag se teks ons die pad wys.  Die geheim om teleurstellling te oorkom, is om die verlede te laat gaan. As jy vandag enigsins voel asof jy vasgeval het, probeer deur selfondersoek vasstel waaraan jy vasklou.  Jy moet bereid wees om die teleurstellings en/of mislukkings te laat gaan d.m.v. vergifnis.

Wie het jou seergemaak?  Wie het jou tenagekom? Het jy enige beheer daaroor gehad?  Gee dit nou oor aan God.  As jy nodig het om jouself te vergewe, doen dit vandag. As jy God se vergifnis nodig het… jy het dit reeds ontvang d.m.v. Sy kruisdood. 

Dis tyd om van die verlede afskeid te neem en aan te beweeg.  Neem vandag daardie eerste tree.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...