Monday 11 July 2016

As alles teen jou is

Psalm 41 : 8  Almal wat my haat, staan en fluister oor my, hulle wens my net die ergste toe:
Was jy al in ‘n situasie waar jy gevoel het alles is teen jou en dat ander hul verlekker in jou lot?  Ek dink dit is min of meer hoe Oscar Pistorius moes voel.  Ja, hy het Reeva doodgeskiet… daarvoor betaal hy elke oomblik wat hy wakker is en heelwaarskynlik ook in sy drome (nagmerries).  Aanvanklik is hy aan mansslag skuldig bevind en het hy tronkstraf daarvoor gekry. 

Nog skaars was hy onder huis arres vrygelaat, of hy moet hoor daar word nou geapelleer en dat hy moontlik weer tronk toe kan gaan, die keer op aanklag van moord.  Dis dejavu as hy weer vir Gerrie Nel in die oë moet kyk…  weer vir regter Matsipa moet antwoord… weer voor Reeva se familie moet ineenkrimp. 

Niks wat hy doen kan dit wat op Valentynsdag twee jaar gelede gebeur het, omkeer nie.  Reeva is dood.  Weer word hy skuldig bevind – die keer vir moord en die vonnis is 6 jaar.  Sommige mense reken dis te min, ander, soos ek, reken dis te lank.  Hoeveel pyn kan een mens hanteer?  Niks wat Oscar doen sal sy reputasie weer in ere herstel nie.  Elke enkele daad wat hy pleeg, elke woord wat hy uiter, elke gesigsuitdrukking of emosie wat hy wys word ontleed en buite verband geruk.  Nou wil hul weer appelleer teen die kort vonnis.  Kan hulle die man nie met rus laat nie?

Dalk het Oscar sy lot aanvaar soos jy ook jou lot aanvaar het.  Jy glo jou verhouding is tot niet.  Jy dink dis onmoontlik om te herstel van jou verslawing.  Jy het dalk ‘n misdaad gepleeg en jy weet jy gaan boet.

Deur die genade oordeel God nie met dieselfde maat waarmee ons oordeel nie.  Hy vergewe en laat die verlede waar dit hoort. 

Vers 12  Dit weet ek: U het my lief, my vyand sal nie oor my triomfeer nie.

Oscar kan weer opstaan as hy geanker bly in God.  Hy het die liefde van sy familie en God wat hom sal deurdra.  As hy weet aan Wie hy behoort, kan hy nie verslaan word nie.  As God vir jou is, wie kan teen jou wees?

Ook jy moet weet dat hierdie net ‘n tydelike terugslag is.  Dit is ‘n teleurstelling en dis onregverdig, maar dit mag jou nie terughou van wat God vir jou in gedagte het nie.  Wat jy in die gesig staar mag groot, swaar en onoorkombaar lyk, maar moenie toelaat dat dit jou intimideer nie.  Een aanraking van God se hand en die situasie is omgekeer.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...