Tuesday 19 July 2016

Here moet my tog nie verlaat nie

Klaagliedere 5:20 Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat?

O, Here vandag kom ek na U toe met al my seer en al my smart.  Ek voel soos ‘n drenkeling, Here.    Ek verstaan nie hoekom hierdie dinge gebeur nie.  Net soos ek dink ek kan asemhaal, dan slaan ‘n brander my weer te pletter. 

Hoekom al hierdie aanslae, Here?  Ek weet U beloof dat U my nie bo my vermoëns sal beproef nie, maar ek begin wonder, Here.  My kragte raak al minder.  My liggaam is broos en seer.  Die ergste van alles is dat daar geen sigbare merke van hierdie aanslae teen my op my liggaam te bespeur nie.  Op die oog af mag mense selfs dink ek het geen sorge nie, want ek steek dit so goed weg.  Die seer is hier binne, Here.   Ek kan met niemand daaroor praat nie.  Die skande is te groot.   Waar begin ‘n mens in elk geval.  So krop ek dit maar op en so reën die aanslae op my neer.  Soms is daar ‘n venster van genade.  Dan probeer ek ook lag en vrolik wees, maar kort voor lank word ek weer aan die stryd herinner… kom die pynlike herinneringe weer by my op.  Dit is besig om my te ruineer en dit verander wie ek is.  Die vloek… die sondes van die vaders… Waar gaan dit alles eindig, Here? 

Vergewe my hierdie oomblik van selfbejammering.  Bewaar my van die bose, Here.  Deur dit alles weet ek dat U alleen my hoop en my uitkoms is.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...