Monday 18 July 2016

I'm gorgeous and I know it

Jesaja 43 : 19  Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

Ongeag wat tot dusver in jou lewe gebeur het, dit is nooit te laat om die mens te word wat God jou geskape het om te wees nie.  Jy is nie wat mense sê jy is nie. 

‘n Paar jaar gelede het ons vakansie gehou in Namibië.  Dit was ons eerste besoek en ons het sommer baie foto’s geneem.  Namibië is enige fotograaf se droom. Daar is ongelooflike mooi landskaptonele.  Tussen Swakopmund en Walvisbaai het jy die kontras van die oseaan aan die een kant en die Namib woestyn aan die ander kant.  Ek het nooit gedink ek sal liries raak oor sand nie, maar dit is beeldskoon.  In die binneland kry jy weer die veld en doringbome met massiewe versamelneste.  Op ‘n stadium bestuur my man en ek sit en kyk deur die foto’s. Ek is nie so vertroud met die kamera nie en probeer uitwerk hoe om ‘n foto te delete wat nie so perfek is nie.  Op ‘n stadium sê ek, ek wonder wat doen ‘format’.  Wel, as jy weet wat gebeur as iemand ‘format’ op ‘n kamera of rekenaar druk, kan jy dink hoe ek op daardie oomblik gevoel het.  Dit wis alles uit… elke enkele foto is daarmee heen. 


Wel, ‘format’ alle negatiewe uitlatings, stellings of insprake oor jou lewe.  Wis dit uit.   Dit wat die onderwyser, die rugbyafrigter, jou gewese meisie, jou sogenaamde vriende van jou gesê het… dis alles vergete.  Herprogrammeer jou denke met positiewe denke.  Ek is perfek… geskape na die beeld van God.  Ek is in staat om groot hoogtes te bereik.  Nie net gaan ek hierdie hoogtes bereik nie, maar ek gaan uitstaan en onthou word vir dit wat ek bereik het.  God het in my ‘n meesterstuk vervolmaak.  Ek is briljant.  Ek kan eenvoudig geen voet verkeerd sit nie.  My lewe is doelgerig op koers.  I’m gorgeous and I know it!

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...