Sunday 31 July 2016

Wat is die lewe?

Het jy al ooit ‘n staatshospitaal besoek?  Indien nog nie, wil ek jou uitnooi om dit te doen.  Daarna sal jy nooit weer kla oor die maandelikse tarief wat jy vir jou mediese fonds betaal wat sal verseker dat jy behoorlike mediese hulp kan kry as jy dit eendag nodig het nie.

Ek het die onbenydenswaardige ‘voorreg’ gehad om iemand daar te besoek.  Sommer nog voor jy instap, lyk dinge al verwaarloos.  Stap jy by ongevalle in, is daar massas mense wat wag.  Al weet jy nie waarheen om te gaan, is daar nie ‘n navrae of ontvangs nie.  Die wagtende pasiënte is jou enigste hoop.  ‘n Man beduie in die rigting van swaaideure.  “Mag en daar ingaan?” Hy beduie weer.  

Anderkant die deure lyk dit erger.  Die gange is skemerdonker en koud al skyn die wintersonnetjie ylweg buite.  Ek soek ‘n ontvangs of ‘n lid van die verpleegpersoneel.  Niks.  Ek hoor stemme verder in die gang.  Hier sit personeel en eet.  Ek vra waar ek die pasiënt sal vind.  Met ‘n mondvol hoender en vet wat by die mondhoeke uitloop, word ek gesê om in die gang af te gaan na die manssaal.  Ek draai verstom om.  Halfpad in die gang af skree ‘n manlike personeellid agter my aan dat ek deur die dubbeldeure en nog ‘n saal moet stap en dan die pasiënt sal vind.

Daar aangekom, lê die persoon in ‘n skoon bed.  Dis 14 grade buite.  Die persoon het ‘n agterstevoor hospitaal jurk aan.  Een van daardie komberse wat jou nie warm maak nie, lê opgerol eenkant en ‘n laken is al wat hom warm moet hou.  Bo sy bed hang ‘n leë drip.  Die pypie gaan nie in sy arm in nie, maar krul onder ‘n staalbedkassie sonder handvatsels in.  Die naald is steeds in sy arm.  Op die bedkassie is ‘n blink bakkie met ‘n naald en bloed in.  Langsaan staan ‘n plastiekhouer met ‘n spuitnaald en ‘n pienk vloeistof daarin.  Sy baard is lank.  Om sy mond ‘n oranje smeersel.  Oorskiet pampoen, hoor ek later.  Sy liggaam amper gelyk met die plastiek matras... maer, ondervoed.  Die mond ingesonke… van die valstande is daar geen teken nie.

Die oë vlieg verwilderd oop.  “Ek is dors… en honger.  Ek kry koud.  Dis verskriklik koud.  Ek stap uit en gaan soek op ‘n Saterdagmiddag ‘n oop winkel in ‘n dorp waar alles eenuur sluit.  Ek kry ‘n kombers en koop ‘n sappie met ‘n tuit soos wat kinders uit drink.  Terug by die hospitaal neem twee bewerige, benerige hande die bottel.  Ek help om dit tot by die lippe te kry.  “Here, dis lekker koeldrank, die.  Waar het jy dit gekry?”  Die tongetjie lek bewerig oor die lippe om elke druppeltjie in te neem.  Ek lig die laken op terwyl ek sy waardigheid probeer bedek, posisioneer die kombers en plaas die hospitaalkombers en laken bo-oor.  “Dankie,” word daar geprewel.  Ek bid dat niemand die kombers sal steel nie. 

Ons groet… albei wonder of ons mekaar weer sal sien.  Ek loop in ‘n waas van trane daar uit.  Die swaaideure waardeur ek sonder sukkel ingekom het, verg nou ‘n kaart om uit te kom.  Ek gaan soek ‘n personeellid om hul kaart te ‘swipe’.   Ek wil uit.  Ek wil die sonlig op my liggaam voel.  Ek wil bid… vir genade, maar ek weet nie of ek vir genesing moet bid nie.  Is die lewe binne daardie mure enigsins slegter as die lewe hier buite?

Is dit hoe iemand behandel word wat sy lewe lank gewerk het… altyd ‘n bydrae tot die samelewing gemaak het.  Ja, hy het foute gemaak wat die oorsaak is dat hy vandag in eensaamheid die dood inwag, maar is dit reg?


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...