Monday 1 August 2016

As God voorsien

Genesis 22 : 14  Op die berg van die Here word voorsien.”

Ons soek nou al geruime tyd na ‘n tweedehandse motortjie vir my seun wat hopelik binnekort sy bestuurderslisensie gaan kry.

Daar is baie kansvatters.  Elkeen probeer om ‘n vinnige paar rand te maak.  So sien ek hierdie motortjie op Gumtree.  Die persoon nooi jou uit om alle ure te skakel.  Dis vroegoggend en ek neem ‘n kans om te skakel.  “Die motor is so te sê weg,” se die man.  Ek vra:  “Wat beteken so te sê?  Of die motor is daar of hy is weg.”  “Wel, die mense bring die geld vanoggend,” sê hy.  Ek gee gelate toe, maar vra dat hy my skakel as die mense nie met die geld tevore kom nie.  Skaars tien minute later lui die foon:  “Mevrou, jy het my nou so sleg laat voel.  Die ander mense wil die kar koop om te verkoop.  Dit klink of jy dit regtig nodig het.  As jy dit wil hê, kan jy dit maar kry.” 

Ek spreek af om die motor te gaan besigtig.  Hy onderneem om die waterpomp te laat regmaak intussen.  Ons begin WhatsApp.  Sy profiel prentjie het ‘n diep geestelike boodskap.  Ek begin God se hand in die situasie sien.  Daar gekom lyk die motortjie op die oog af heel goed.  Daar is ‘n bietjie roes bo die voorruit, maar andersins lyk dit netjies en goed versorg.  Nadat ek ‘n draaitjie gery het, word die transaksie beklink.  Ek betaal ‘n deposito en hy onderneem om die motor deur die toets te sit en te registreer op my naam. 

So het ons ‘n motor vir my seun bekom… een uit God se hand.  Ek hoef nie bekommerd te wees oor my veiligheid tydens die transaksie en of die papierwerk wettig is al dan nie, want alles werk deur die handelaar en hy doen al die dinge waarvan ek geen kennis het nie.

My seun is in die wolke oor die motortjie en nou meer as ooit gemotiveerd om sy lisensie met die eerste probeerslag te kry. 

Dankie, Hemelse Vader vir U voorsiening

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...