Wednesday 24 August 2016

Die reis

Genesis 28:20  Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee,
Op ‘n prentjiemooi laat Wintersmiddag ry ek huis toe in die bus. Die lug is assuurblou en daar is nie ‘n briesie nie.  Regs van ons lê Tafelberg in al sy glorie.  Ons is so naby dat jy elke boom en paadjie kan sien.  Die perfek gelyk boonste deel skakeer in teen die blou lug. 
Die ironie is dat bitter min van my mede-passasiers hierdie oomblik indrink.  ‘n Groot groep sit met geslote oë.  Dalk haal hul verlore slaap in. Dalk wil hul net rus of reflekteer op die dag.  ‘n Ander groep is besig op hul selfone… Facebook, WhatsApp, Twitter, Media 24…  Ek voel of ek kan opspring en skree:  “Ons ry verby een van die sewe wonders van die wêreld, kyk!”  Ok, ek weet ons ry elke dag daar verby en die berg sal more steeds daar wees, maar kyk net hoe mooi is hy vandag!
Die twee kabelkarretjies skuur verby mekaar, elkeen in sy eie rigting.  Vir sommige is die ervaring amper verby, maar vir ander lê dit nog voor.
Dit is soos die lewe ook is.  Vir sommige van ons is die lewe so te sê verby terwyl dit vir ander nog skaars begin het.  Die vraag is of jy elke oomblik van die reis geniet het?  Het jy die klein wonderwerkies raakgesien of was jy vasgevang in jou eie probleme of gedagtes?

Ons mis so maklik uit op asemrowende oomblikke omdat ons op die verkeerde dinge fokus.  Maak tyd om hierdie oomblikke in te drink.  Ons het die mees ‘amazing’ mede-reisiger:  God.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...