Tuesday 23 August 2016

Wees genadig

Efesiërs 6:9  En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid.
Met al die tuinwerk gister, voel ek vandag beslis my ouderdom.  Ek het pyne waar ek nie eens geweet het ek spiere het nie.  As ek opstaan of gaan sit, doen ek dit soos ‘n hoogswanger vrou.  Trappe is ‘n uitdaging.  Gelukkig het ek vandag om te rus en my moeë spiere te laat rus.
Dit het my laat wonder oor mense wat elke dag sulke fisiese arbeid moet verrig. As eienaar, besef jy wat dit van hul neem om hul dagtaak te verrig?  Dink jy ooit daaraan dat hulle moeg raak of seer is?  Op ‘n stadium gister toe ek die graaf weer met mening in die grond instamp en my voet moet oplig om dit dieper in te trap, voel ek ‘n duiseligheid my omgewe.  Ek is moeg… ek is seer en ek besef ek het die einde van my kragte bereik, maar ek moet klaarmaak, want in die week is daar nie tyd nie.  Gelukkig kon ek self besluit of ek voortgaan al dan nie.  Hoe gemaak as jy vir ‘n baas werk en ook so voel?

Vandag wil ek by jou pleit om na jou werksmense te kyk… werklik te kyk. Hul is mense, nie masjiene nie.  Hulle raak moeg… hul liggame raak ouer… elke dag neem dit dalk meer en meer wilskrag om aan te hou doen wat hul doen.  Meeste van hul het nie ‘n keuse nie.  Hul het verantwoordelikhede en nie die luukse van ‘n pensioen om na uit te sien nie.  Daar is min of meer niks om hul te dryf behalwe oorlewing nie.  Moet hul nie sommer net as lui afmaak nie.  Probeer hul verstaan en betoon medemenslikheid teenoor hul.  Hoeveel van hulle kan ‘n fisioterapeut bekostig?  Pyne word heelwaarskynlik met drank bedwelm.  Dalk kan jy iets doen om die lewe vir hul makliker te maak.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...