Monday 15 August 2016

'n Buitengewone God

Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here?
Ons lees in Die Bybel van vele buitengewone gebeurtenisse.  Die een van Abraham en Sarah is beslis buitengewoon.  Sarah was nie net oud nie, sy was kinderloos en sy het al tot so ‘n mate hoop opgegee dat sy selfs vir Abraham toestemming gegee het om by hul huishulp te slaap om ‘n kind te verwek sodat hy ten minste ‘n nageslag kon hê.  Kan jy jouself die hartseer van hierdie vrou indink? Nie net is haar moederskoot leeg nie, maar sy moet die vernedering deurgaan van Hagar wat haar man die een ding gee wat sy hom nie kon gee nie… ‘n eie kind.  So stap die jare aan en Sarah weet dat daar geen hoop op ‘n eie kindjie is nie.  As ‘n sy dan afluister en hoor die engel sê dat hy oor ‘n jaar gaan terugkom en dat Sarah dan ‘n kindjie sou hê, het sy uitgebars van die lag.  Ek dink ek sou ook aan die giggel gegaan het.  Sarah is amper 100 jaar oud… hoe belaglik! 
Belaglik in menslike terme, ja… nie as jy ‘n God dien wat spesialiseer in die buitengewone nie. 
Waarvoor bid jy?  Glo jy heimlik dat dit onmoontlik is?  Is dit wat jy deurgaan so moeilik dat God dit nie radikaal kan omkeer nie?  As God ‘n bar moederskoot kan laat blom vir Sarah, dink jy nie dat Hy ten minste jou ‘probleempie’ kan oplos nie? 
Ons bid, maar glo ons regtig?  Het jy al jou geloof daadwerklik gedemonstreer?  Of bly dit maar by bid en lippetaal? 

Ek het al meer as ‘n 1000 dagstukkies gepubliseer en vir jare al praat ek oor geloof en vertroue.  Daarom is dit hoogtyd om God te vertrou.  Ek het my werk opgegee en ek vertrou God volkome vir die toekoms.  Nee, dis nie ‘n blinde sprong nie.  Na jare van bid en vra, het ek my boodskap hard en duidelik gekry.  Bid is een ding.  Vertrou is heeltemal ‘n ander ding.  Nou vertrou ek God vir buitengewone deurbrake en wonderwerke.  Ek WEET dat niks vir Hom onmoontlik is nie en daarom is ek ontsettend opgewonde.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...