Wednesday 10 August 2016

Vandag!

Vandag is ‘n nuwe dag en ‘n nuwe dag beteken nuwe geleenthede vir God om iets asemrowend in jou lewe te doen.

So dikwels wag ons vir more, volgende week, volgende maand, selfs volgende jaar om voorspoed of geluk te ervaar.  Die goeie nuus is dat jy nie hoef te wag nie.  Vandag is die begin van die res van jou lewe!

Guns, seen, genesing, deurbrake, voorspoed… dis alles beskikbaar vandag… vir jou.  Hoekom wag op eendag om gelukkigte wees, beter tevoel, sukses te behaal… wat ook al?  Soms dink ek ons hou daarvan om te wag.  Ons is so goed gemanierd en geduldig. 

Daar is niks mee verkeerd om te beplan en te droom oor die toekoms nie.  Solank ons net nie so gefokus is op die toekoms dat ons die hede uit die oog verloor nie.  God sit met soveel seëninge wat Hy wil uitdeel… hoekom kan jy nie die een wees wat dit vandag vir jou toeëien nie?

God is die groot ‘Ek is’, nie die groot ‘Ek was of sal wees’ nie.  God is ‘n teenwoordige God.

Het jy al ooit 2 Korintiërs 6 : 2 gelees?  Dit is vandag joune.  Kyk, nou is dit die regte tyd…
Sien jy dit? Lees dit weer.  NOU… nie eendag iewers in die toekoms nie… NOU!  God wil jou vandag oopmond laat staan.  Sê vir jouself:  “Ek is gereed.  Ek sal my horisonne moet verbreed sodat daar genoeg spasie is vir God om te beweeg.  Ek moet my beperkte denke oopgooi sodat daar geen beperking is nie.  Vandag is die dag… Vandag is MY dag. Ek is gereed!"

Jy sien, God ontmoet die mens op dieselfde vlak van jou verwagting.  As jou verwagting vir R200 is, gaan jy R200 kry.  As jou verwagting onbeperk is, is God onbeperk in Sy vermoëns.


God is met jou op hierdie oomblik.  Glo met elke vesel van jou wese in God se voorsiening in elke enkele aspek van jou behoeftes.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...