Tuesday 9 August 2016

'n Jaar vol mylpale

Spreuke 31:2 My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het, oor wie ek 'n gelofte gedoen het,

My seun is vanjaar in matriek.  Soos jy weet, is dit ‘n jaar vol mylpale.  Vroeër vanjaar is hy aangeneem en voorgestel in die kerk… die einde van Sondagskool.  Later vanjaar is dit die matriekafskeid.  So ‘n rukkie gelede het hul ‘forty days’ gevier en binnekort is dit die rekord eksamen… en dan die eindeksamen en die wye wrede wêreld.  Een van die groot mylpale is om jou 18de verjaardag te vier.  Deesdae is dit die verjaardag waarop jy die volwasse wêreld betree.  En jy moet jou bestuurderslisensie bekom! 

Sedert hy verlede jaar sy leerlinglisensie gekry het, gee ek en pa om die beurt bestuurslesse.  Aan die begin was dit senutergend, maar ouers moet ook hul vermoëns vertrou.  Deesdae sit ek gereeld op die agterste sitplek sodat die manne hul ding doen.

Daar kom egter ‘n tyd dat jy besef jy kan hom net tot sover leer, dan moet ‘n kundige oorneem om daardie gevreesde K53 manier van bestuur te bemeester.  Dis ‘n heel ander manier van bestuur.  Boet bring sy kant en vaar goed.  Saans bestudeer hy die tegniek op papier en oefen alles wat ‘die tannie’ hom geleer het.  Uiteindelik breek die groot dag aan… die dag van sy ‘uitpassering’.  Hy het ‘n 2 uur les vooraf en 10h00 is die oomblik van waarheid.  Die druk is soveel groter omdat dit sy verjaarsdag ook is… sy 18de verjaarsdag. 

Ek bid:  “Here, hy is ‘n verantwoordelike jong man wat sy kant gebring het.   As daar een persoon is wie ek agter ‘n motor se stuur vertrou, dan is dit vir hom.  Here, ons hoor so baie hoe mense die eerste keer ‘dop’.  Mag geregtigheid vandag seëvier…Mag harde werk en toewyding vrugte afwerp… as dit U Wil is… baie dankie.   En Here, wees tog met hom… maak hom kalm en laat die verkeersbeampte tog menslikheid openbaar.  Amen.”  

Kwart voor 11 kan ek dit nie meer hou nie.  Ek stuur ‘n boodskap:  “Ek wag in spanning.  Enige nuus?”  Tien minute later lui my foon.  “Ek het hom, Mamma!  Ek het hom!”  “Dankie, Here” prewel ek.  “Ek is so trots op jou seun! Knapgedaan! Lekker verjaarsdag geskenk ne?"


Amazing!  En nou staan die koutjie se deurtjie oop en moet ek glo dat ons hom ‘reg’ grootgemaak het.  May God be with you, my child.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...