Sunday 4 September 2016

Gooi af

Hebreërs 12 : 1  Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

Dit verbaas my altyd as mense sê dat hul alles presies dieselfde sal doen as hul, hul lewe moes oor leef.  Daar is tye in my lewe wat ek nooit, ooit weer wil beleef nie.   Ek wil beslis nie weer 8 herstrukturerings- of personeelverminderings herleef nie. Ek wil ook nooit weer die slagveld van ‘n egskeiding deurleef nie.  Ek wil nooit weer die verkeerde besluite wat ek gemaak en die gevolge daarvan herhaal nie.

Al was hierdie dinge hoe aaklik, bly ons terugdink daaraan en in sommige gevalle herleef.  Soms gebruik ons dit as die basis waarop ons, ons toekoms baseer.  Dis nog ‘n fout. Ons behoort dit agter te laat en nie saam te sleep nie.  Indien ons dit nie afskud nie, kan dit ons vreugde en entoesiasme vir die toekoms demp.

Party van ons het ‘n bitterbeksakkie wat ons saamsleep.  Elke keer as iemand ons te na kom of as dinge nie heeltemal uitwerk soos ons gehoop het dit sou, voeg ons dit by ons bitterbeksakkie.  Elke teleurstelling, elke fout word noukeurig in die sakkie geplaas.  Elke nou en dan gaan sit ons op die ashoop van die lewe en pak ons bitterbeksakkie uit en herleef elkeen van hulle. 

Die lewe is so kort.  Mors jy nie te veel tyd met jou bitterbeksakkie nie? Dink jy nie dit is tyd om daardie sakkie agter te laat en voort te beweeg nie? Môreoggend as jy opstaan, begin die dag met vergifnis.  Vergewe almal wat jou al te nagekom het… of hul daarvan weet of nie.  Vergeet die teleurstellings en terugslae van die verlede.  Noudat alles afgegooi is wat jou kan terughou, kan jy aanbeweeg.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...