Tuesday 15 November 2016

Beteuel jou humeur

Spreuke 19 : 11  'n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.

Daar is elke dag rede om ontsteld, gefrustreerd of seergemaak te voel.  Miskien het jy planne gehad wat nie uitgewerk het nie, of iemand was onbeskof met jou by die kantoor.  Dalk het jy ‘n taak aangepak wat jou so ‘n uur moes besighou en op die ou einde het jy heeldag daarmee geworstel.  Die lewe is vol klein irritasietjies en frustrasies.  Dis nie altyd moontlik om jou omstandighede te beheer nie, maar jy kan beheer hoe jy daaroor voel.  Die slim mense sê:  “Die lewe is 10% wat gebeur en 90% hoe jy reageer.”

Dalk verduidelik dit hoekom ons alewig geirriteerd is of so maklik kwaad word. Ons reageer te maklik op omstandighede waaraan ons in elk geval min sou kon verander.  As jy op pad werk toe in ‘n verkeersknoop vasgevang word, gaan kwaadword niks aan die situasie doen nie.  Vloek, skel of skree gaan net jou gemoedsrus steel. Sit agteroor en geniet die onverwagte tyd wat jy het om op jou geestelike groei te fokus.

Meeste dae verloop nie soos ons beplan nie, maar ons kan steeds die beste daarvan maak. Tevredenheid is ‘n posisie van mag.  As jy kwaad raak omdat jou kind nie die klere wil aantrek wat jy vir hom of haar uitgesoek het of omdat jou man nie optree soos jy verwag nie of omdat jy nog ‘n kilogram opgetel het terwyl jy alreeds so min eet, gee jy jou vrede weg. Sommige goed kan jy eenvoudig nie beheer nie.

Maak ‘n wilsbesluit om daardie teleurstellings soos water van ‘n eend se rug te laat afrol.  Ignoreer die stekies wat mense na jou mik. 

Gemoedsrus en vrede in jou hart is belangriker en laat God glimlag oor jou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...