Wednesday 16 November 2016

Stemmetjie

Psalm 121 : 7  Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

Hoor jy soms hoe ‘n stemmetjie binne jou kop skree ‘pasop’ of ‘moenie’ as jy iets doen wat jy nie veronderstel is om te doen nie?  Sodra jy daardie ongemaklikheid ervaar, is dit nodig om te stop waarmee jy besig is en die situasie of omstandighede te evalueer. 

Dis jou innerlike alarm.  Iets is besig om die alarm te aktiveer, maar in Suid-Afrika is ons mos gewoond om alarms te ignoreer of te dink die fout lê eerder by die toestel as by die oorsaak.

Net so ignoreer ons ook daardie stemmetjie.  Ons wil nie nou deur ons gewete in toom gehou word nie.  Ons wil doen wat ons wil doen. En wanneer ons dan die gevolge van ons dade moet ‘face’, wonder ons hoekom dinge net nie vir ons wil uitwerk nie.  Wel, as ons na die ‘stemmetjie’ geluister het, sou ons dalk nie in die situasie beland het nie.

Dalk is jy deel van ‘n lekker sappige skindersessie as die alarm afgaan.  Dis ‘n waarskuwing om weg te stap.

Of dalk is jy besig om iets te koop as die stemmetjie weer waarsku… Jy’s besig om planne te maak, en die stemmetjie is weer daar…  Moenie jou innerlike alarm ignoreer nie.  Dis God wat met jou praat of jou waarsku.  Neem tyd om te verstaan wat Hy probeer sê.  Jy mag jouself dalk net van groot pyn of hartseer vrywaar.

Deur op die toon van jou stemmetjie te let en dit nie te ignoreer nie, kan jy jouself uit meeste moeilikheid hou.  Die stemmetjie is God wat jou lei en jou die weg wys. Moenie die alarms deaktiveer en sodoende die seen, guns en beskerming wat jy daardeur kon geniet verloor nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...