Thursday 10 November 2016

Keer terug

Deuteronomium 4:30  “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam.

Ek het lank gelede ‘n oom geken wie se vrou baie kwaai met hom was.  Die arme oom kon omtrent nooit enige iets regdoen nie.  Wanneer die tannie nou regtig die hoenders in vir die oom was en hy gevra word hoe dit gaan, het hy altyd geantwoord: “Die goetertjies is nie so lekker nie.”
 
Vir my voel dit ook knaend of die goetertjies nie so lekker in ons land is nie.  Studente betoog nie net nie, hul brand af, verniel en breek af waarvoor hul eerstens nie gewerk het nie en tweedens geen waarde aan enige iets uit die verlede heg nie.

Die een oomblik word Pravin Gordhan aangekla, met al die nadelige gevolge aan die ekonomie en net die volgende week word die klagte teruggetrek.  Net om te hoor, hy gaan nou weer oor iets anders aangekla word.  Uhm, hoekom is hy nie in die eerste plek hieroor aangekla nie, of het hulle gedink hul gaan hom sink op die eerste probeerslag?

Die kapingsverslag word vrygetstel en ons hoor hoe dit wat ons reeds weet, bevestig word.  Korrupsie, selfverryking, leuens, oor en weer beskuldigings… daar word selfs 'n traantjie of twee gepink!  Wat sê hul van benoude katte?

Die damme raak al leër en leër terwyl die reën wegbly.  In die noorde is daar darem ‘n reënseisoen wat voorlê, maar in die Kaap het die somer so pas begin.

Kan ons onsself nog ‘n Christelike land noem?  Weet ons nog waar ons redding lê?  Ek glo die antwoord lê daarin dat ons terugkeer na God en Sy Woord nie net gehoorsaam, maar begin leef.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...