Tuesday 31 January 2017

Undercover boss

Kollosense 3 : 22 Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

Ek kyk onlangs vir die eerste keer die program “Undercover boss”.  Die Uitvoerende Hoofde van groot maatskappye vermom hulself en werk dan in verskeie afdelings van hul besigheid.  Om die teenwoordigheid van kameras te verduidelik word die personeel vertel dat die persoon deel van ‘n dokumentêr is.  Dis eintlik ‘n briljante manier om te sien presies wat in jou besigheid aangaan.

So byvoorbeeld ry die Uitvoerende Hoof saam met ‘n drywer om pakke klere by verskeie takke te gaan aflewer.  Hy sien hoe dit nie moontlik is om die roete in die aangewese tyd te voltooi nie.  Boonop breek die trollies waarmee hy die pakke straat af stoot, die reëlings in die vragmotor val op die grond met al die pakke en die arme drywer spandeer 15 minute om papierwerk af te handel voor hy na die volgende winkel kan vertrek.

Na ‘n week laat hy elke werknemer met wie hy nou saamgewerk het na sy kantoor kom en ontmasker homself aan hul.  Jy kan jou voorstel hoe senuweeagtig die werknemers is, want meeste maak baie negatiewe opmerkings in sy teenwoordigheid. 

Na die ontmaskering spreek hy hul individueel.  Vir die een outjie vra hy of hy weet hoe seer sy kritiek vir hom as eienaar gemaak het.  Die outjie skuif op sy stoel rond en vra omverskoning… en sê dat dit maar net sy opinie was.  Jy kan jou die outjie se verligting voorstel as die Uitvoerende Hoof dan breed glimlag en sê:  “Nee!  Jy was reg.  Ek waardeer elke eerlike opmerking van jou, want ek weet jy het dit gesê omdat jy omgee. Terloops, hy was so beindruk met hierdie jongman dat hy vir hom ‘n Internskap aangebied het.

Vir elkeen van die werknemers word daar dankie gesê omdat hul goeie idees gehad het en tekortkominge uitgewys het.  Verbeterings wat hul voorstelle insluit word aan hul oorgedra.  Meesal word die werknemers dan genooi om deel van die verbeterings te wees. Een vrou is byvoorbeeld saamgenooi na Italië om deel te wees van die ontwikkeling van nuwe produkte.  Sommige kry bevordering en ander verhogings.  Jy kom ook agter dat die Uitvoerende Hoofde goed luister na die werknemers, want hy tel byvoorbeeld op dat die persoon graag sy studies wil voltooi en dan bied hy aan om daarvoor te betaal of ‘n man wat graag wil trou, maar daar is nie geld nie se bruilof word volledig geborg.

Wat my opval van die reeks, is hoe belangrik erkenning is.  Dit is ook opmerklik dat mense negatief is as gevolg van omstandighede.  Sodra daardie omstandighede verbeter is hul ontsettend positief en toegewyd.

Niemand van ons weet wanneer ons grootbaas dalk ‘undercover’ by ons werkplek inval nie.  As hy met jou praat… watter indruk sal hy van jou kry?  Sal hy jou bevorder, beloon, prys?

Die feit dat daar iemand is wat ons salaris betaal, maak van hul ons ‘baas’, maar uiteindelik werk ons vir God.  Sal dit nou nie lekker wees as Hy aan die einde van die dag tevrede met ons dagtaak kan wees nie?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...