Tuesday 30 May 2017

Wat word van ons land?

Psalm 10 : 3  Die goddelose verlustig hom nou al in wat hy hoop om in die hande te kry. Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander, wens homself by voorbaat geluk. Hy verag die Here. (13) Hoe durf die goddeloses God verag en reken Hy sal hulle nie uitvind nie? (14)  En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar 'n einde aan. Op U verlaat die ongelukkige hom, ook vir die weeskind is U 'n helper.

Dalk vra jy ook die vraag: Wat word van ons land?  Een ding is verseker, dit is beslis deesdae ‘n interessante plek om te woon. Daar is voortdurend komedie en tragedie.  Wanneer ons na al hierdie dinge kyk, lyk dit asof God homself distansieer van hierdie situasie. Jy wil amper soos die Psalmdigter vra waar God dan is.  Maar as jy hierdie Psalm lees, besef jy hierdie dinge is nie nuut nie.  Oor die eeue heen was daar onregverdigheid, self-verryking, sonde.

Ek glo nie vir een oomblik dat God apaties staan teenoor hierdie situasie nie.  Dit druis in teen alles wat ons in die Bybel leer.  Jy kan nie anders as om dan te wonder wanneer God gaan optree of wat Hy aan die situasie sal doen nie.  Ons het dan in Bloemfontein gebid en vas geglo daar sal verandering kom, maar helaas, die sepie duur voort.

Net God sal weet wat Sy planne rondom dit alles is.  Intussen kan ek en jy twee dinge doen.  Ons kan aanhou bid en terwyl ons bid, ook hierdie mense in gebed opdra. Of ek en jy dit nou wil weet of nie, hierdie leuenaars, korrupte amptenare, moordenaars, bedrieërs ens, ens, ens is ook ons medemens.  Ook hul is geregtig op God se genade.  God wil nie dat een siel verlore gaan nie, hoe kan ons hul dan veroordeel of ignoreer? 

Die laaste opdrag was duidelik… Ons werk is om siele te werf.  Die oordeel sal kom, maar van waar dit behoort te kom… van God.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...