Monday 29 May 2017

Psalm 104

Psalm 8 : 4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,

Dis ‘n rukkie sedert ek my laaste dagstukkie met jou gedeel het. Dankie dat jy my hierdie pouse tyd gegun het.   Intussen het baie water in die see geloop. 

Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie aan my ma dink nie. Die woorde in die teks herinner my aan haar geliefde lied:  Psalm 104:  “O Heer my God as ek in eerbied wonder. En al U werke elke dag aanskou. Die son en maan, die aarde, sterre, wolke, Hoe U dit elke dag so onderhou…”  

Ek mis haar geweldig. Elke dag besef ek meer en meer hoeveel sy in en om ons huis gedoen het sonder dat sy dit ooit daaroor geroem (of dit genoem) het.  En ek was so besig dat ek helfte daarvan nooit raakgesien het nie.  Spyt is ek oor baie dinge, maar dit is helaas te laat.

Daardie dae is vir altyd verby.  My fokus het egter verskuif. Ek leef stadiger… wat ek daarmee bedoel is dat ek niks meer najaag of wil bereik nie. My enigste doel is nou om selfs ‘n nouer verhouding met my Hemelse Vader te hê. My hele lewe draai nou om Hom.

Nou het ek tyd om uit te stap en die diere kos te gee, na die voëlgesang te luister, te sien hoe die blare verkleur en my te verlustig in die lieflike Herfsdae. Ek weet ons het water bitter nodig, maar ek waardeer hierdie dae so.  Verlede week het ek in die platteland gery waar dit heelwat gereën het gedurende die nag en vroegoggend en ewe skielik was dit ‘n miernes van bedrywighede.  Boere en hul trekkers het op die landerye gewoel.  Boere is verseker deesdae op hul knieë, maar God het op die regte tyd voorsien en hul kan saai.  Laat ons hul in gebed hou vir opvolg reën. 

Oral waar ek kyk, aanskou ek die handewerk van God en dit hou my geaard en herinner my aan Sy beloftes.     

Ek hoop dat die lewe jou goed behandel het die afgelope paar maande.  Indien jy ‘n uitdaging of twee die hoof moes bied, vertrou ek dat dit jou geloof versterk het en weereens aan God se goedheid herinner.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...