Wednesday 12 July 2017

My tye is in Sy hande

Psalm 31 : 16  My tye is in u hand

Ek lees vroeer die week van ‘n seuntjie wat in 2013 net 4 weke gegee is om te leef.  Hy was maar 4 jaartjies oud toe hy met ‘n baie ernstige kanker gediagnoseer is.  Om sulke nuus aan te hoor as jy ‘n volwassene is, moet jou omtrent platslaan.  Kan jy jou voorstel om dit aan ‘n kind oor te dra?

Die klein mannetjie het sy stryd die naweek verloor.  Sy mamma het mense via sosiale media op hoogte gehou en hy’t byna 17 000 mense gehad wat sy vordering dopgehou het.  Toe sy mamma die hartseer nuus Sondag deel, het 3000 mense bykans onmiddellik gesimpatiseer. 

Ons kan daarna kyk op twee maniere.  Die dood het nog ‘n slagoffer geeis, of die hemel is ‘n engeltjie ryker. 

Al is dokters hoe slim, hou hul nie iemand se lewe in hul hande nie.  Net God hou ons tyd in Sy hande en daarom het hierdie klein seuntjie 4 jaar langer geleef as wat die dokters gereken het. 

Ek glo dit is omdat God gebede en smekinge aangehoor het.  Hy is immers ‘n God wat omgee en altyd luister na die gebed van die regverdige.

As jy dalk onlangs ‘n diagnose moes aanhoor, gesels met God daaroor en laat jou tyd in Sy hande.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...