Monday 21 August 2017

God van Wonderwerke

Efesiërs 2 : 4 – 7  Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!  Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

As jy die Bybel lees, dan is jy heel waarskynlik bewus van vele wonderwerke wat God gedoen het.  Hy het die Rooisee in twee gedeel sodat die Israeliete droogvoets kon deurstap… Vir Josua het hy die son laat stilstaan… ‘n skare mense is gevoed met ‘n klein seuntjie se maaltyd…  Maar dit is ongelukkig waar mense washaak… by wat God gedoen HET (verlede tyd).

Natuurlik moet ons onthou wat Hy gedoen het en Hom daarvoor eer en prys, maar ons moet nie vir een oomblik dink dat dit nie meer vandag moontlik is nie. 

In ons teksverse vandag is dit duidelik:  Sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is…  Hy wil steeds wonderwerke laat gebeur… in ons hedendaagse tyd;  in jou en my lewe.

As ek terugkyk oor my eie lewe is daar vele wonderwerke wat God gedoen het.  Ek dink byvoorbeeld aan die keer toe ons huis gekoop het.  Ek wou eers ‘n huis vind alvorens ek ons huis in die mark sit.  Na twee jaar se soek, vind ons ‘n huis waarvan ons hou.  Ons teken ‘n aanbod en sit ons huis in die mark.  Die eerste naweek kry ons ‘n volle aanbod vir ons huis en dit op sigself is ‘n wonderwerk.  Nou wag ons vir die finansies om uitgesorteer te word.  Soos die noodlot dit wil hê is ‘n boedel betrokke en met die sloerdery, maak iemand ‘n kontantaanbod op die huis waarvoor ons geteken het.  Dit was hartverskeurend, want ons wou so graag daardie huis gehad het, maar ons het nie kontant gehad nie.  Nou moet jy weet, ons het ‘n koper vir ons huis, maar ons het nie meer ‘n huis nie.  Dit was senutergend!  Ons het twee jaar lank na ‘n huis gesoek voordat ons iets gevind het, hoe op dees aarde gaan ons nou een vind op kort kennisgewing? 

Ek skakel al wat ‘n eiendomsagent is, maar rig nie veel uit nie.  Ek spandeer ure op die internet en fynkam koerante, maar tevergeefs.  Op ‘n dag lui my telefoon.  Die persoon vra of ek nog in die mark is vir ‘n eiendom.  Ek bevestig dit.  Sy begin beskryf die huis en daar stoot sommer so ‘n opgewondenheid in my op.  Ek vra of sy een van die agente was wat ek geskakel het die afgelope tyd en sy sê:  “Nee, jy het ‘n skouhuis besoek sowat twee jaar gelede en aangedui waarna jy soek.  Ek het nou hierdie eiendom ingekry en gedink ek skakel jou.” ‘n Wonderwerk?  Beslis, maar dit is nog nie die einde nie.  Sy neem my om die huis te besigtig en ek hou sommer dadelik van wat ek sien.  Oplaas neem sy my na die woonstel gedeelte en daar op die lessenaar is ‘n naambordjie met my seun se naam en van daarop.  Toevallig het die eienaar se vrou uit ‘n vorige huwelik ‘n seun wat dieselfde naam en van as my seun het!  Noodloos om te sê, ons het die huis gekoop en die transaksies het verder seepglad verloop.  Dit is maar net een voorbeeld van God se almag in my eie lewe en ek glo ek het nog lank nie die einde van sy almag gesien het nie.

Onthou vandag een ding, God is ‘n God van wonderwerke.  Waar jy jou vandag bevind is nie waar jy veronderstel is om te wees, nog minder waar jy gaan bly.  Hy het soveel meer vir jou in gedagte.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...