Sunday 20 August 2017

Neem die eerste treetjie na genesing

Handelinge 4:30  Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

Hoe voel jy vandag?  Sit jy dalk op ‘n hopie en voel verskriklik jammer vir jouself?  Ek weet nie hoekom jy so voel nie.  Dalk is jy eensaam… dalk treur jy oor ‘n geliefde wat afgesterf het… miskien het iemand jou te na gekom…  Miskien het jy slegte nuus ontvang… of dalk is jy net op ‘n donker plek in jou lewe… 

Wat ek wel weet is dat jy heel waarskynlik goeie rede het om so te voel.  So ‘n jammer-kry sessie is gewoonlik die gevolg van ‘n onreg wat jou aangedoen is.  Jou seerkry is intens en baie keer is daar onopgeloste sake wat dit moeilik maak om afsluiting te kry en aan te beweeg.

Wat ek wel vandag weet, is dat jy ‘n rede mag hê om vir jouself jammer te voel, maar dat jy nie ‘n reg het om vir altyd so te voel nie.  Jy het die reg op geluk en vrede in jou gemoed.  Dalk moet jy iemand gaan sien, maar as jy nie wil nie, ontleed die situasie een laaste keer op ‘n baie rasionele manier.  Kyk na die feite en as die feite daarop dui dat dit wat jy vermoed, die waarheid is… dat jy verontreg is, dan is dit goed. Indien jy skielik die ander persoon se standpunt insien, is dit nog beter.  Hoe dit ookal sy, jy moet jouself uit hierdie put trek waarin jy jouself bevind.

As jy hier bly, gaan jy negatief raak, en mettertyd gaan mense jou vermy, want hoe swaar dit ookal is, mense wil nie regtig tyd spandeer saam met iemand wat altyd kla of in die verlede bly leef nie.  As jy huil, huil jy gewoonlik alleen… en as jy lag… wel dan lag almal saam met jou.

Glo my, dit is nie verkeerd om jouself te bejammer nie, maar daar is ‘n tyd vir alles en nou is die tyd om te laat gaan.  Gee babatreetjies, maar gee ten minste treetjies na genesing.  Binnekort sal jy kan sê: “I might still be hurting, but I’m healing”.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...