Wednesday 23 August 2017

Hoe gaan dit?

Deuteronomium 18:13  Jy moet opreg wees voor die Here jou God.

Soveel van ons dra denkbeeldige maskers elke dag van ons lewe. Wanneer ons iemand groet, vra ons gewoonlik hoe dit gaan.  Min mense sal die geleentheid gebruik om jou eerlik te antwoord.  Ons antwoord amper outomaties:  “goed dankie”.

Ons kruip agter ons denkbeeldige plastiek maskers weg en gee voor dat alles in orde is, maar dit is glad nie so nie.  Binne ons is dit stukkend en eintlik is ons lewe besig om uit mekaar te val. Hoekom wil ons teen elke prys voorgee dat alles reg is as dit glad nie so is nie?

Is dit omdat dit klink asof meeste mense se ‘hoe gaan dit vraag’ nie regtig ‘n antwoord verwag nie?  Hoe hartseer is dit nie? Ons kan mos nie voorgee ons is Christene en dan stel ons nie opreg belang in ons medemens nie.  Glo my almal wat jy vandag gaan teëkom is nie ok nie.  Daar is mense wat hartseer is, honger is, huweliksprobleme het, wie se kinders op skool sukkel… en so kan ek aangaan.

Dalk is hierin op sig self vir ons ‘n les te leer.  Moenie vra hoe dit gaan as jy dit nie bedoel of tyd het om te luister nie.  Ek het al geantwoord: “nie so goed nie,” en die persoon het dit nie eens agtergekom nie… net geantwoord… "ook goed dankie". Dalk wil ons eenvoudig nie betrokke raak nie, want nou-nou moet ek jou help.

Om jou masker te laat sak en toe te laat dat ander die pyn in jou oë sien, is nie ‘n swakheid nie.  Dit wys eerder dat jy ‘n mens met gevoelens is.  Ek glo vas dat gedeelde hartseer gehalveer word en gedeelde vreugde verdubbel.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...