Thursday 17 August 2017

'n Sagte woord

Romeine 12 : 21 Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Die skrif verwag van ons om kwaad met goed te oorwin.  M.a.w. as iemand ongeskik is, moenie terug ongeskik wees nie.  Ons moet dus nie tot op die vlak daal van die persoon wat ons tenakom nie.  Dit impliseer dus dat ons sal uitstyg bo sulke omstandighede en daarom moet ons presies die teenoorgestelde doen.  Wanneer jy iemand vriendelik groet en jy net ‘n bromgeluid in ruil kry, moet jy nie by jouself dink dat jy die persoon nooit weer sal groet nie. Nee, jy groet weer en weer en elke keer net so vriendelik as die eerste keer. 

Die lewe rondom ons is bitter genoeg, ons kan nie tot daardie bitterheid bydra nie.  As ons ware ligdraers is, moet ons die een wees wat die grimmigheid afkeer met ‘n sagte woord.  Ons moet verskoning vra, al is ons nie noodwendig skuldig nie.  Dis darem ‘n bietjie baie gevra sê jy.  Dit hang af hoe jy daarna kyk.  As ons gedurig mekaar probeer terugkry, vererger die situasie en omstandighede by die dag.

Indien ons egter nie toelaat dat hierdie dinge in ons klere gaan vassit nie, skep ons ‘n beter omgewing.  Dit is nie altyd maklik nie… of nee, dit is nooit maklik nie. Om altyd die minste te wees, om altyd terug te staan, om altyd tweede te kom… dit vat aan jou. 

Dit beteken dat jy elke tree in nederigheid gee… Dit druis in teen alles wat ek daagliks aanskou, roep jy uit!  Mense voel niks vir mekaar… hulle sal mekaar vertrap en doelbewus onder die bus ingooi en ek moet elke tree in nederigheid gee! 

Die enigste manier hoe jy dit gaan regkry is deur genade van Bo.  Spreuke 29 : 23  Hoogmoed bring 'n mens tot 'n val; nederigheid bring eer.  Betoon genade en saai genade waar jy jou ookal bevind.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...