Tuesday 15 August 2017

Verander jou benadering

Spreuke 17 : 22  'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput.

Daar sal altyd iets of iemand wees wat jou irriteer en sodoende jou vreugde wil steel. 
As jy nou terugdink, sal jy goed weet wat dit is wat jou irriteer.  Ek praat sommer van jou ‘hot buttons’.  Jy is ‘n stiptelike persoon, so as jou wederhelf gedurig laat is, is dit jou ‘hot button’. Jy hou van stilte as jy TV kyk, maar ‘n gesinslid praat aanhoudend… weereens jou ‘hot button’.  Jy koop die koerant en nog voor jy dit kan lees, het iemand dit beetgehad en is dit nie presies opgevou soos wat jy daarvan hou nie en daar is jou hele dag bederf.  Jy is ‘n wetsgehoorsame, bedagsame bestuurder, ander motoriste oortree verkeersreëls, druk in… herken jy die ‘hot button’? Elke keer wat jy in die badkamer inkom, lê en kyk die tandepasta buisie vir jou met ‘n tongetjie wat uithang, want iemand het alweer die doppie afgelos. Tieng!  Hot button!

Jy kan of vir die res van jou lewe toelaat dat hierdie dinge jou ontstel, of jy kan jou benadering verander.  Wat jou tot dusver ontstel het, hoef jou nie in die toekoms te onstel nie.  Aanvaar dat mense verskil en dat die dinge wat jou pla, nie noodwendig ander pla nie. Kalmeer en aanvaar.  Sekere goed sal nooit verander nie, maak nie saak hoeveel keer jy daaroor praat of raas nie.  Besluit om te fokus op die positiewe.  As jou eggenoot altyd laat is… wees bly jy het iemand wat jou vergesel, al is hul ‘n bietjie stadig.  Gesels eers lekker met die gesinslid wat praat terwyl jy wil TV kyk en noem dan dat jy nou ‘n bietjie gaan sit en TV kyk… As iemand die wet oortree of onbedagsaam bestuur, glimlag vriendelik vir hul.  As die tandepastabuisie weer sonder sy doppie is, wees dankbaar dat daar nog mense is wat die huis met jou deel en draai die doppie met liefde op. 

Kort voor lank sal die verhoudings met jou gesinslede verbeter.  ‘n Vreugdevolle hart is goeie medisyne aldus ons teks vandag.  Neerslagtigheid trek jou af.  Hou vas aan jou vreugde en ervaar die seen wat dit oor jou lewe sal bring.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...