Monday 4 September 2017

Die tien gebooie

Eksodus 20  “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.  Jy mag naas My geen ander gode hê nie.  “Jy mag nie vir jou 'n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.  Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.  “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.  “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.  Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.  Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.  “Jy mag nie moord pleeg nie.  “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.  “Jy mag nie steel nie.  “Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.  “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Die eerste gebod gaan daaroor om God eerste te plaas, in elke aspek van jou lewe.  Die tweede is om God alleen te dien. Hy verwag onverdeelde trou.

Elkeen van die ander 8 gebooie is eintlik verweef in hierdie twee gebooie. 

As God eerste is in jou lewe en jy Hom alleen dien, sal jy NOOIT sy Naam misbruik of op enige manier nie eerbiedig nie.  Selfs wanneer iemand anders Sy Naam misbruik, sal dit jou teen die bors stuit. Om die waarheid te sê, jy behoort hul reg te help om te keer dat God se toorn oor hul losbars.

Sondag sal aan God behoort, ‘n dag om Hom te dien en eer, tyd met Hom te spandeer en jou batterye te herlaai vir die week wat voorlê. Daar is mense wat op ‘n Sondag moet werk.  Jesus het ook op ‘n Sondag iemand genees, maar jy mag nie toelaat dat dit oor geld gaan nie.

Hoe kan jy jou Hemelse Vader eer en eerbiedig, maar nie jou aardse ouers nie?  Let op dat God geen voorwaarde stel soos byvoorbeeld dat jou ouers jou respek moet verdien nie.  As jy egter wel Sy gebod nakom, word jy beloon met ‘n lang lewe. 

Die sesde gebod gaan daaroor dat jy niemand sal seermaak nie, nie fisies of emosioneel nie.  Dit behoort weereens ‘n natuurlike uitvloeisel van die eerste twee gebooie te wees, want jy kan nie vir God lief wees as jy Hom seermaak met jou optrede of dan ook Sy skepsels.

Met die sewende gebod sal dit dan ook maklik wees om getrou te wees in jou huwelik, synde jy reeds die basis van getrouheid leer wanneer jy God alleen dien.

Hoe kan ek die agtste gebod oortree as ek my mede-broers en susters in geloof liefhet?  Jy steel mos nie van hulle vir wie jy omgee nie.

As God die eerste en enigste God in jou lewe is, sal jy Hom nooit wil teleurstel met leuens nie.  Wanneer jy vir ander lieg, lieg jy immers voor God.

Laastens behoort ek op niemand afgunstig te wees, want God gee vir elkeen van ons genoeg.  Om die waarheid te sê, Hy sal jou met meer wanneer Hy sien dat Hy jou met min kan vertrou.  En sodra ons Sy koninkryk opgesoek het, gee Hy ons in elk geval die begeertes van ons hart.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...