Tuesday 5 September 2017

Waak teen wat in jou hart aangaan

Spreuke 4 : 23  Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Ons het ‘n paar jaar gelede in Namibië getoer.  Op die een of ander onverklaarbare manier, neem ons die verkeerde afdraai uit Windhoek in die rigting van Swakopmund.  Het jy al ooit ‘n slegte grondpad gery? Wel hierdie pad is honderdvoudig erger.  Dit is ‘n pad uit die hel.  Bult op en bult af en die heeltyd dink jy dit sal nou-nou teerpad word.  Later besef jy dat jy te ver in is, jy kan net sowel deurdruk.  Aan die begin probeer jy om die slaggate ry, later ry jy net om deur die nagmerrie te kom.  Nog later raak dit donker… al wat jou laat vasbyt is Swakopmund se liggies in die verte.  

Al was die motor hoe dig, het daar tog ‘n stofreukie ingekom en die motor was onherkenbaar toe ons uiteindelik by ons bestemming arriveer.  Die volgende dag het ons die motor na ‘n motorwassery geneem wat stof uitgeblaas het, waar ek nie geweet het stof kan inkom nie.  Daar het letterlik skopgrawe stof uitgekom.

Die stofdeeltjies van die wêreld het ‘n manier om elke moontlik plekkie van jou menswees binne te dring.  Al probeer ons hoe hard, het party mense die vermoë om ons vrede te steel.  Dit is egter waar ons beheer moet neem.  Dit bly immers ‘n keuse.  Gaan ek toelaat dat iemand anders se gedrag of woorde my ontstel of nie?  Nie as ons elke dag onsself herinner aan vandag se teks nie. 

As jy toelaat dat dit jou affekteer, sal jy ontnugter en teleurgestel deur die lewe gaan.  Dit beteken nie jy mag nie ontsteld, geskok of hartseer wees nie, solank jy altyd daarop fokus dat hierdie slegs ‘n oomblik in die groter prentjie is… die beste is nog op pad.  Jaag al hierdie gedagtes uit jou binneste uit en verklaar dat jy vrede bo onrus verkies.

God veg namens ons, ons hoef nie elke geveg te veg of te wen nie.   Hou God op die troon, nie jou omstandighede nie. As jy vrede kies, sal jou vyande beskaamd staan.  Job 8:22  Dié wat jou haat, sal met smaad bedek word.

Goed gebeur nie met jou nie, maar vir jou.  Jy sien nie wat God sien nie.  Hy sien egter hoe dit wat nou gebeur jou na die volgende vlak kan neem.  Bly dus gefokus op God se planne met jou lewe.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...