Sunday 17 September 2017

Jy is 'n bamboesplant

Matteus 14 :   31  Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Partykeer kan ‘n mens mismoedig raak wanneer dinge verkeerdloop, al probeer jy jou bes om volgens die wil van God te leef.  Wanneer jy bid, vertrou en glo, maar God antwoord steeds nie, is dit maklik om te twyfel.  Dit is ongelukkig so dat geen kind van God gevrywaar is van hartseer en teleurstelling nie.  God is nie ‘n deurry kitskos restaurant waar jy gou jou bestelling kan plaas en dan by die volgende venster jou bestelling kan optel nie.  Hy beantwoord gebede op Sy tyd.

Genadiglik sal God nie toekyk hoe jy sink nie.  Toe Petrus op die water geloop het en hy weggekyk het van Jesus, het hy gesink.  Jesus het egter nie gewag totdat Petrus onder die water verdwyn het nie. Jesus het onmiddellik sy hand uitgestrek en hom uit die water getrek. God is nooit laat nie.  Net voor die waters om jou kop toevou, red Hy jou uit.
Die probleem is dat ons partykeer dink God beantwoord nie ons gebede omdat ons nie goed genoeg is nie.  Jy dink dalk God sal nie vir jou deurkom nie, want jy is te sleg, te ver heen, mense noem jou ‘n looser…  kry dit uit jou kop.  Jy is nie soos byna alles wat ons aan raak, in China gemaak nie.  Jy is deur die Lewende God geskep.  Hy het jou uniek en perfek geskape.

Partykeer vergeet ons net wie ons is.

Daar is die verhaaltjie van die bamboes en die varing.  ’n Man was baie mismoedig na verskeie teleurstellings dat hy ‘n lang gesprek met God gehad het waartydens hy onder andere gesê het dat hy nie kans sien om aan te gaan nie.  Toe God hom vra om nog een keer te probeer, vra hy dat God hom een rede gee hoekom hy weer moet probeer.  Dis toe dat God hom vra of hy al die bamboesplant gesien het. Die man was verbaas oor die vraag.  God verduidelik toe.  Toe ek die varing, sowel as die bamboessaad geplant het, het ek baie mooi na albei omgesien. Albei het genoeg lig en water gekry.  Die varing het sommer vinnig groen spruitjies uitgesteek en kort voor lank welig gegroei.  Teen jaar twee was die varing ‘n lieflike plant, maar die bamboes kon jy nêrens sien nie.  Teen jaar drie was daar steeds geen teken van die bamboes nie.  Maar God sê hy het nie opgegee op die bamboes nie. Teen jaar 5 het daar uiteindelik ‘n stukkie groen deur die grond gebreek.  Op hierdie stadium was die varing oorweldigend groter as die bamboesplant, maar binne 6 maande het die bamboes bo die varing uitgetroon. Hoekom het die bamboes so lank gevat om te ontkiem?  Die saad het lankal ontkiem, die bamboes was net besig om ‘n stewige wortelstelsel te vestig alvorens hy deur die grond gebreek het.

Net soos wat God nie opgegee het op die bamboesplant nie, het hy ook nie op jou opgegee nie.  Jy is ‘n bamboesplant Jy mag dink daar gebeur niks in jou lewe, maar jy is besig om ‘n stewige wortelstelsel te vestig.  Hierdie stewige wortelstelsel gaan die fondasie wees wat seker maak jy kan enige stormwind weerstaan wanneer jy kort voor lank kop en skouers bo die res uitstyg.

Beteken dit die varing is nie belangrik nie?  Nee, albei is pragtig en elkeen het ‘n plek op aarde.  God het hul net verskillend gemaak.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...