Thursday 14 September 2017

Dit gaan oor keuses

Matteus 7 :  24  -  27  “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.    Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.  En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het.  Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Slegte goed gebeur ook met goeie mense.  Die Bybel sê immers dat reën val op die regverdige sowel as die onregverdige.  In vandag se teks lees ons egter iets wat my twee keer laat dink.  Ons het almal keuses…  Keuses wat ons maak volgens kennis waaroor ons beskik of onder leiding van die Heilige Gees.  Ons kan hierdie kennis gebruik om vir ons baie trane en ongemak te spaar. 

Partykeer dink ek ons is net bloot domastrant.  Ons weet baie goed dat dit waarmee ons besig is of dit wat ons beplan nie die regte ding is nie, tog beur ons voort.  Jy het byvoorbeeld nou al hoeveel keer gehoor dat ons van God praat en dat jy jou lewe in orde moet kry, God moet aanneem as jou verlosser en saligmaker, maar jy kies om met jou leefstyl voort te gaan.  Jy leef soos een wat vir altyd gaan leef.  Jy drink, gebruik dwelms, lê geen oordeelkundigheid aan die dag oor met wie jy in die bed spring nie, bestuur roekeloos, steel… moet ek aangaan?

Is jy besig om jou huis op ‘n rots te bou of op die sand?  Die een is verstandig en die ander ‘n dwaas.  Die een se huis bly staan, die ander word geheel en al verwoes.

Maar ek wil jou verseker daar is vir jou hoop.  Daar is iemand wat al jare vir jou bid en vandag is die dag dat jy die knie voor God gaan buig.  Hy staan en wag vir jou.  Gee jou hart vandag aan Hom en jy sal nooit weer terugkyk op jou ou lewe nie.  Twyfel jy… wonder jy of God jou ooit kan vergewe?  Hy het jou reeds vergeef… hy wag net vir jou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...