Thursday 5 October 2017

Eer mekaar

Hebreërs 13 : 4  Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.

Het jy al vandag vir iemand gesê dat jy lief is vir hulle?  Wat van hulle naaste aan jou;  diegene met wie jy jou huis deel?  Jou eggenoot, jou kinders? 

Een van die mees waardevolle dinge wat jy kan doen is om vir jou lewensmaat te sê jy is trots op hom/haar.  Onthou hy/sy kan nie hoor wat jy dink nie.  Jy moet dit hardop uiter.  “Maar ek het dit al gesê, sê jy.”  Wel, sê dit weer.  Dit is soos om saadjies te saai.  Daardie saadjies skiet wortel, groei en dra vrugte waarin jy kan deel. 

Ons weet dat elke mens smag om erkenning.  Sê jy is lief vir die persoon, al weet hul dit.  Sê vir hulle dat hul mooi lyk, al weet hulle dit.  Sê vir hul dat hul oulik, slim, intelligent is.  Jy sal sien hoe dit daardie persoon opbou en van hul ‘n beter eggenoot maak.

Selfs al is hy/sy nog nie die persoon wat jy wil hê hul moet wees nie. Soms dink ek ons hou ons ander helfte terug omdat ons hul nie genoeg opbou nie. Jy kan nie ‘n plantjie water gee wanneer jy dit gekoop het en dit dan daar laat nie. Jy moet gereeld daardie plantjie water en plantvoedsel gee en seker maak daar is geen peste en plae of onkruid wat hul groei kan belemmer nie.

Ons is so maklik om te kritiseer, maar hoeveel keer komplimenteer ons?  Daar is soveel mense wat ‘n lae selfbeeld het of depressief is omdat diegene naaste aan hul, hul afbreek en nooit ‘n sagte woord het, wat nog te sê ‘n kompliment gee.

En as jy nou voel jy kan nie van jou hart ‘n moordkuil maak om vir jou wederhelf te sê hul is pragtig of intelligent nie.  Die vraag is, volgens wie se standaard?  Jy het dan hierdie persoon gekies. Ja, hul liggaam mag verander het, maar binne in is hul nog dieselfde persoon vir wie jy lief geword het. Vergelyk jy hom of haar nou met daardie aantreklike gegradueerde by die kantoor, of die persoon in die tydskrif of die aantreklike televisiester?  Kom nou…  Al gehoor van photoshop?

Partymense gebruik neerhalende taal as hul na hul eggenoot verwys…die ou vrou of die ou potjierol...  Wat van ek gaan huis toe na my prinses? Onmiddellik verhef dit jou eie status Mnr die Prins. 

As jy van vandag af net klein veranderinge begin aanbring, soos om jou taalgebruik te verander, in ‘n sagte vriendelike stemtoon te praat en elke nou en dan ‘n kompliment te gee, waarborg ek jou dit sal jou huwelik nuwe lewe gee.

In effek is dit om jou huweliksbeloftes te leef.  Dus as jy ja geantwoord het op die vraag of jy beloof om hom/haar lief te hê tot die dood, dink ek dit is nodig dat jy weer oor jul verhouding dink.  Eer en waardeer mekaar. Sien mekaar met nuwe oë.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...