Wednesday 4 October 2017

Maak vrede

Spreuke 15:1  'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam.

Hoe is die atmosfeer in jou huis?  Sien jy dit as ‘n veilige hawe of is dit ‘n plek waarna jy nie vreeslik uitsien om terug te keer nie?  Was dit altyd so?  Heelwaarskynlik nie.  Ek is seker daar was ‘n tyd wat julle liefderik in mekaar se oor gefluister het.

Is daar voortdurende rusies, kwetsende woorde, afbrekende aanmerkings? Is jy die een wat stilbly, of probeer jy om beter as jou opponent te wees? 

Wanneer twee mense op mekaar gil, hoor hul glad nie mekaar nie. Dit beteken dat julle nooit mekaar sal verstaan nie.  Daar is ‘n rede hoekom ons twee ore en een mond het.   Jakobus 1 : 19 elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.  Jul sal egter baie goed die pyn onthou wat elkeen se woorde oor mekaar gebring het en elke keer veroorsaak dit net nog 'n krakie in die huweliksbootjie.

"Ja maar, hy begin altyd eerste…"  En dit gee jou die reg om deel te neem?  Hoekom kan jy nie eenvoudig wegstap nie?  Draai die ander wang.

Daar loop meer mense rond met die pyn van gebroke verhoudings as wat ek en jy besef.   God het beide jou en die persoon geskape met wie jy so lelik is.  God het nie gedink daar is iets fout met hom of haar nie.  Hy dink ook nie daar is fout met jou nie. Dit beteken egter nie dat Hy goedkeur hoe julle teenoor mekaar optree nie.  Dis jou dade wat nie aanneemlik vir God is nie.

Jy kan nie altyd presies sê wat jy dink en hoe jy voel sonder om ‘n verhouding skade aan te doen nie.  En weet jy, hoe langer dit aanhou, hoe groter is die skade.  Nie net vir jou nie, maar ook vir jou kinders.  Hier’s die goeie nuus… dis nooit te laat om oor te begin nie. En hiermee bedoel ek nie egskeiding nie… jammer om jou teleur te stel.  Egskeiding los nie probleme op nie, dit skep net nuwe probleme.  Die belofte was tot die dood ons skei… in die goeie sowel as die slegte tye.  Nou is ‘n slegte tyd en dit beteken dinge kan net beter raak.

Jy kan vandag besluit dat jy nie verder deel gaan wees van hierdie onaangenaamheid nie.  Jy gaan dit vir God gee en Hom vra om ‘n wag voor jou mond te sit sodat jy die minste kan wees. Die Bybel sê immers ons moet nie toelaat dat die son sak op ons grimmigheid nie.  Jy gaan vergewe en en vergeet.  Iemand moet die eerste stap neem en dit kan net sowel jy wees.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...