Sunday 29 October 2017

God van die buitengewone

Genesis 18 : 14  Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.”

Die Engelse vertaling lees:  “Is anything too hard for God?”

In die Kaap heers die grootste droogte in menseheugenis.  Jy begin heel anders dink oor water.  Elke druppel word gespaar en sover moontlik meer as een keer gebruik.  Persoonlik erken ek dat ek besig is om manies te raak oor waterbesparing.

Twee keer ‘n dag bad of stort is so uit soos die spreekwoordelike koekies in ‘n weeshuis.  Daar word nie eens meer elke dag gebad of gestort nie.  Selfs Premier Helen Zille erken sy stort net elke 3de dag.  Toegegee dit is nog nie Somer nie, so ons kan nog wegkom met ‘n lappie, seep en ‘n kommetjie water vir die strategiese plekkies. Die dreineringspype is besig om uit te droog, want ons tap nie meer water direk in ‘n wasbak nie.  Solank dit in ‘n kommetjie is, kan ons dit buite op ‘n plantjie gaan gooi.  Glo my ‘n plantjie wat smag na water, gee nie om dat daar ‘n bietjie seep of versagmiddel in is nie.  Skielik gril jy vir wat altyd in jou afvoerpype afgegooi is, maar weereens, die plante kla nie oor ‘n bietjie vetterige skottelgoedwater nie.  Die wasmasjien se water loop in ‘n houer en word ook tuin toe gedra.  Oral staan emmers, komme en houers met water.

Ons bad het sowat ‘n maand gelede ook bevordering gekry.  Hy is nou amptelik ‘n opgaartenk.  Daarmee spoel ons die toilette en as die kommetjies nie voldoende is nie, kan die plantjies ook hieruit voordeel trek.

Ek begin al meer van die hart van ‘n boer verstaan, want skielik raak ek ook opgewonde as ek ‘n paar wolkies sien.  En ek is net so mismoedig as die weervoorspelling reën voorspel en die wolkies trek verby.  My keel trek toe.  Mense kan nog gaan water koop, maar wat van die diere?  Jy hoor al meer en meer van boere wat hul eie lewe neem omdat hul nie meer hul diere se lyding kan aanskou nie. 

En dan is daar nog steeds minder as 50% van die inwoners van die Stad Kaapstad wat die herhaalde versoeke op waterbesparing ernstig op te neem.  So hoor ek van iemand wat nie omgee hoeveel water hul gebruik nie, want hul woon in ‘n kompleks en die heffing word verhaal of hul bespaar of nie!  Regtig! 

Logika sê vir jou dat die afmetings van hierdie probleem net gaan eskaleer, want daar is nie meer ‘n moontlikheid van reën nie. Die Winter is amptelik verby.  Ons gaan die warm droë Somer tegemoet met damvlakke van onder 40% en mense wat steeds reken daar is geen rede tot kommer nie.

As Christen hou jy egter aan bid. “Here, U het geluister na Abraham se gesmeek om die stede te spaar waar Lot gebly het, as daar net 10 regverdiges sou wees.  Ek wil glo daar is darem so 10 regverdiges wat aanhoudend bid vir uitkoms, Here. Here, net U kan ons red.  Die reënseisoen is verby, maar U is ‘n God van die onmoontlike.  Dalk is dit wat U wil wys Here, dat as dit buite seisoen reën dit net van U kan kom… ‘n wonderwerk, asb Here.  Ons smeek U om uitkoms.”   

En dan bewys Hy Homself as ‘n God van die buitengewone… ‘n God vir wie niks te moeilik is nie.  Ons kry twee keer in een week goeie reën. Prys die Here!  Dankie, dankie, dankie.

Is dit genoeg om ons deur te dra?  Nee, maar dit plaas ons in ‘n beter posisie as daarsonder en as ons aanhou bid, glo ek dat God Homself weer aan ons sal openbaar.  Bid asseblief saam met ons… nie net vir die Weskaap nie, maar vir elke gebied in ons land waar daar waternood is of sal wees as God nie voorsien nie.  Die mens het so magtig geword... ons kan enige iets doen... soos 'n voël deur die lug vlieg, mense maan toe stuur, harte oorplant, krag opwek, hemelhoë geboue bou, maar ons kan nie water maak nie.  Ons is steeds van God afhanklik al wil nie almal van ons dit erken nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...