Monday 16 October 2017

God van gelyke kanse

God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy Eniggebore seun gestuur het om vir ons sondes te sterf.  Let jy op dat daar nie net na sekere mense verwys word nie… die hele wêreld.

Daar staan ook dat Hy gekom het om te soek en te red wat verlore is. Dit impliseer dat jy nie kan wegkruip of wegkom nie.  As God Sy oog op jou het, gaan Hy jou vind.  Sy liefde vir die mens is onbegrens.  Dit maak nie saak hoe sondig jy is nie, Hy sal jou was dat jy witter as sneeu is. Hy het nie gekom om tyd met die reeds gelowiges te spandeer nie, eerder om diegene aan te raak wat gedink het dat daar vir hul geen hoop op redding is nie.

Ons sal nooit verstaan hoe God se kop werk nie.  Wie is ons om te oordeel?  Hy is nie rassisties, kieskeurig of bevooroordeeld nie.  NIKS gaan Hom skei van Sy liefde vir jou nie.

Hy is nie bang om in die casino in te stap en jou daar te gaan uithaal nie… Hy sal nie huiwer om jou uit die shebeen te kom haal nie… Bendegeweld in Manenberg gaan Hom nie keer nie… Hy’t geen probleem om in die ontkleeklub in te gaan nie… Sy liefde ken geen perke nie.

Saggeus is ‘n man wat ander uitbuit, die mees onwaarskynlike persoon by wie jy sou dink Jesus sou tuisgaan, tog is dit presies wat Hy doen… en wat gebeur Saggeus verander soos handomkeer.  Jy kan nie vir God ontmoet en onaangeraak bly nie.

Moses het iemand doodgemaak, tog het God hom 40 jaar later gebruik om Sy volk uit Egipte te lei. 

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs bring ‘n vrou wat owerspel gepleeg het na Jesus.  In plaas van haar tugtig, vra Jesus dat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi.  Ons weet dat niemand ‘n enkele klip opgetel het nie.  En sy kry nog ‘n kans in die lewe :  Johannes 8 : 11  Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Jy kan nie wegkom van God se genade nie.  Hy los die 99 skape en gaan soek na 1 verlore skaap.  Ook na jou strek God die hand van genade uit. Gaan jy dit neem?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...