Monday 9 October 2017

Hoe sien jou kinders jou?

Spreuke 31:28  Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar:

As jou kinders oor jou praat, wat sê hul van jou?  Hoe sien hul jou?  Ek het so ‘n idee dat wat ander mense van ons sê nie soveel gaan saakmaak as dit wat ons kinders van ons sou sê nie.  Ons het so ‘n kort tydjie om hul te vorm dat ons regtig nie kan bekostig om tyd te verspeel nie.

Het jy geweet dat ‘n kind se identiteit van die pa kom?  Met reproduksie het die vrou 1 kromosoom, die man het x en y kromosome.  As hy ‘n x gee, is dit ‘n meisie, en sou hy ‘n y gee, is dit ‘n seun.  Dit is hoekom ons weet dat ‘n kind se identiteit van sy pa kom.  Ja die kind het beide ouers se bloed, eienskappe en gelaatstrekke, maar of hy of sy seun of ‘n dogter gaan wees, kom van die pa.

As pa, is jy betrokke by jou kinders?  En jy mammie?  Soveel kinders is soekend omdat daar nie ‘n pa teenwoordig is tydens hul groot-word jare nie.  Vandag wil ek ‘n beroep op jou doen, al is julle geskei, moenie die kinders van die ander ouer weerhou nie.  Jy doen ontsettende skade aan daardie kind se hele menswees. 

Daardie kind gaan nie vir altyd ‘n kind bly nie.  Daar kom ‘n tyd dat hy of sy vir hulself kan dink en kan besluit by wie hul wil wees en dan wil jy nie berou hê omdat jy die ander ouer van hul weggehou het of valsheid oor hul kwytgeraak het nie. 

Liewe ouer, wees betrokke by jou kinders, luister na hul musiek, gesels met hulle, speel X-box met hulle, stel belang in hul vriende en vriendinne soos die tyd aanstap.  As jy met jou kinders praat, kyk hul in die oë… as hul klein is, tel hul op die kombuiskas as jy met hul gesels sodat hul op dieselfde hoogte as jy is. 

Partykeer is ons so suinig met ons woorde teenoor hul vir wie ons liefde moet gee.  By die werk gesels ons aanhoudend, maar as ons tuiskom, is ons iemand om wie almal wyd hou.

Wees van vandag af spandabelrig met jou woorde, veral woorde wat prys, opbou en komplimenteer.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...