Tuesday 10 October 2017

Werp af die juk!

Jesaja 10 : 27  In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

Ons gaan jare lank gebuk onder ‘n juk. Dalk dra jy die juk van depressie, minderwaardigheid, verslawing, mishandeling en wie weet wat nog.  Vandag is daar goeie nuus vir jou.  Jy’t nou lank genoeg gely, God gaan dit wegneem. 

Soms word die juk van depressie aangegee, soms die juk van verslawing, die juk van ontrouheid.  Dit is so hartseer dat mans wat vroue mishandel, dikwels as kind mishandel is of dat ‘n kind drink omdat hul ouers alkoholiste was.

Soos die Israeliete mag jy dalk ook vir jare te midde van omstandighede gely het.  God het ‘n einddatum aan hierdie omstandighede.  God is in die juk-verwyderings-besigheid. 

Dink net wie jy kan wees sonder daardie juk wat jou terughou? Jy skuld jouself dit om vry te breek.  Trek ‘n streep en sê tot hiertoe en nie ‘n tree verder nie.  Elke juk wat my terughou, word vandag afgewerp.

Hoeveel van jou familielede ook al aan kanker gesterf het, daardie juk sal jou nie tref nie.

Dinge in jou lewe het nou ook verander.  Eensaamheid is op ‘n einde.  Die juk is vernietig.  Onenigheid in die familie… daar sal vrede wees.  Die juk van gemiddeldheid is afgehaal, want jy is tot soveel meer in staat.   Siekte, vrees, gebrek aan selfvertroue… daar is nie meer iets soos like father like son… jou pa kon in die tronk beland het, dit is nie jou voorland nie.

Onthou jy nog vir Ismael?  Hy is gebore as ‘n buite-egtelike kind wat Abraham by Hagar gehad het.  Ismael het nie sy ma gekies nie, hy’t nie gekies om buite-egtelik te wees nie, tog is hy saam met sy ma verwerp. Op ‘n dag het Sara vir Abraham ‘n ultimatum gestel of Hagar loop of sy loop.  So moes Abraham vir Ismael en Hagar alleen die woestyn instuur.  Hulle het net brood en ‘n bietjie water gehad.  Nie lank nie, of hul is honger en dors, sonder enige iets.  God het die roepstem van hierdie kind gehoor (nie sy ma nie, maar hierdie tenagekomde kind).  Mense sou hom as ‘n fout sien… God het omgegee vir hom ten spyte van sy verlede en daarom het God hom uit die omstandighede gehaal en geseen.
   
God het sy juk verwyder, net soos wat hy jou gaan help om van jou juk ontslae te raak.  


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...