Sunday 22 October 2017

Verander my hart, Here

Esegiël 11:19  Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee.

Om elke Sondag kerk toe te gaan, maak nie van jou ‘n Christen nie.  Net so beteken dit nie dat jy ‘n kind van God is as jy na ‘n Christen radiostasie luister of elke dag ure lank Bybelstudie doen nie.  Hoekom nie?  Omdat daar verandering moet plaasvind wanneer jy wedergebore word.  Die ou mens word afgesterf en ‘n nuwe mens word gebore… die hart van klip word verwyder en jy ontvang ‘n nuwe hart. Dit gaan nie meer om jou nie, maar oor God.

Dalk is dit hoekom hier soveel verkeerde dinge in ons land bly voortleef al is die grootste deel van die bevolking veronderstel om Christene te wees. Bloed vloei in die strate van Suid-Afrika, ons het droogtes en vloede, die werkloosheidsyfer styg en die eknomie trek swaar.  Ons kan die regering en korrupsie daarvoor blameer, maar dalk is dit omdat die Christenbome nie vrugte dra nie.  Daar is te veel haat, ongelukkigheid, onmin, ongeduld, onbeskoftheid, hebsug en ontrou.  Jy kan nie God en mammon dien nie… Hy is ‘n jaloerse God… jy is of vir God, of jy is teen Hom.

Vandag wil ek jou nooi om behoorlik self-ondersoek te doen.  Meet jouself aan die vrugte van die Gees (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid).  Vra jouself af of daar enige verandering plaasgevind het sedert jy dink jy ‘n kind van God geword het.  Indien nie, moet jy jouself afvra of jy jouself werklik ‘n Christen kan noem.

Jy kan nie ‘n Christen wees wanneer dit jou pas, maar voorgaan met wêreldse dinge wanneer jy dink God nie kyk nie.  Hy is oral.  Jy kan nie Bybelstudie doen en die oomblik wat jy by die deur uitstap, dan verskree of verneder jy ander… is die enigste mens wat saakmaak jyself, is jy ontrou aan jou eggenoot, blaas jy rassehaat aan, vind jy die armes ‘n irritasie, betoog en verniel jy, gee jy jou oor aan padwoede, ens, ens, ens.

Ware verandering is nodig in ons land en dit begin by onsself.  Ons kan nie verwag ‘hulle’ moet verander nie.  Eintlik is dit deel van die probleem… daar is nie ‘n ons nie, net ‘n hulle.  Terwyl ons blameer en vingerwys en nie ons eie aandeel in die probleem raaksien nie, gaan sake net vererger.

Kan ons hande neem en saamwerk om verandering teweeg te bring?  Wat gaan jy van vandag af anders doen?  Ek hoor graag van jou?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...