Monday 23 October 2017

Liefde

1 Korintiers 13 : 4-7  Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.  Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.  Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die eerste vrug van die Gees is liefde. Korintiërs 13 leer ons wat liefde is en nie is nie.  Om hierdie vrug van die gees te dra sodat daar ‘n verskil in die wêreld rondom ons kan plaasvind, gaan nie maklik wees nie. 

Liefde… God het so sterk hieroor gevoel dat Hy dit alreeds in die Tien Gebooie verewig het.  Jy MOET jou naaste liefhê… dis nie onderhandelbaar of afhangende van omstandighede of die ander persoon se optrede teenoor jou nie.  Verder het ons die beste voorbeeld van ware liefde… ‘n Vader wat Sy Enigste Seun offer ter wille van ‘n sondige mensdom. 

Menige ouer sal erken dat hul soms nie baie van hul kinders hou nie, maar dit beteken nie dat hul daardie kind nie meer liefhet nie.  Ons moet leer om te onderskei tussen dade en individue.  Ek kan steeds liefde teenoor jou betoon al hou ek nie van dit wat jy doen nie.  Dit is juis hoe jy iemand reghelp, met liefde.

Met soveel verskille onder ons, is dit vanselfsprekend dat ons nie oor alles gaan saamstem nie, maar ons kan nog steeds in liefde verskil.  Daar is meer geleenthede opgesluit in diversiteit as wat daar verskille is.  Respekteer mekaar se verskille en gebruik dit tot voordeel van almal.

In plaas van na die verskille kyk na die ooreenkomste deur ‘n bril van naasteliefde.  Liefde kan alles oorwin.  Liefde kan eerlik genoeg wees om te erken ons is self nie perfek nie, maar bereid om onsself oop te stel en te leer.

Here, help my om my naaste deur U oë te sien, om eers die balk in my eie oog te verwyder alvorens ek reik na die balk in my naaste se oog.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...