Thursday 12 October 2017

Vrugte van die gees

Galasiërs 5:22  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

Ons ken almal negatiewe mense wat ons probeer vermy, maar ken jy ook positiewe mense?  Positiewe mense is diegene wat die manier het om jou soos die beste, oulikste, slimste, mees fantastiese mens op die aardbol te laat voel.  Hulle praat min oor hulself, maar voor jy jouself kom kry, het jy jou hele lewe met hul gedeel.  Hulle is altyd blymoedig.  Dit is asof hulle altyd die regte antwoord het.  Hulle lig jou op en bring altyd die beste in jou na vore.

Ek is geseen met drie sulke mense in my lewe.  Al drie is lieflike kinders van God wie se geloofsbome swaardra aan die vrugte van die gees.  Oor die jare het ek baie hard probeer om by hul te leer.  Hulle het my gefasineer.  Ek wou soos hulle wees. Ek wou ook hê dat mense moet goed voel as hul wegstap van my.  Daarom probeer ek altyd iets mooi in die ander persoon raaksien.  Ek stel werklik belang as ek jou vra hoe dit gaan.  Dis vir my veel beter as jy praat.  Jy het nie nodig om na my treurmare te luister nie… dit gaan om jou.  Ek beskou dit as ‘n enorme eer as mense hul diepste hartsgeheime met my deel… en dit bly tussen ons.  Glo my, ek is ver van perfek, maar hoe meer tyd ek in hul teenwoordigheid deurbring, hoe meer leer ek en kan ek toepas.

In teenstelling met hierdie drie mense, het ek onlangs ‘n dame ontmoet wat binne 15 minute haar hele finansiële situasie met my gedeel het… nee, nie hoe swaar sy kry nie, maar hoeveel geld en besittings sy het.  En tussendeur het sy haar mes vir ‘n paar mense ingehad van die regering tot die arme bouer.  In gekruide taal het sy my vertel hoe hul daar sou uitsien wanneer sy met hul klaar is. Dit was 'n baie lang 15 minute.

As ons kon kies, glo ek ons sou net met positiewe mense gemeng het, maar ongelukkig kan ons nie altyd kies nie.  Wat ons wel kan kies, is wie ons gaan wees.  Almal kan mislik en wraaksugtig wees, maar kan jy 'n boom wees wat swaardra aan die vrugte van die gees?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...