Monday 11 December 2017

Dit kom beslis

Habakuk 2 : 3  Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.

Ons ken almal die frustrasie van wag… wag vir geleenthede, wag vir deurbrake, wag vir die regte oomblik…  Wag, wag, wag…  Dit voel of jy jou hele lewe lank wag.  God sê:”  Dit kom… dit sal nie uitbly nie.”

In Survivor het die spanne dikwels ‘puzzles’ wat hulle moet bou.  Wanneer dit op ‘n hoop lê, lyk dit chaoties, maar wanneer die regte stukke op die regte plekke gepas is, klik iets en ‘n vlag word gehys.  Oorwinning!  'n Deurbraak.  Net so kan God alles in lyn bring sodat deure vir jou oopgaan waarvan jy maar nog net altyd gedroom het.

Jy probeer al vir jare lank om iemand te kry om na jou idee te kyk en skielik ontmoet jy iemand wat net so opgewonde soos jy daaroor is en… die persoon ken die regte mense om die idee van die grond af te kry. 'n Deurbraak!

Jou motor is ‘n wrak wat jou elke maand ‘n fortuin kos… wanneer alles in plek val kan jy ewe skielik ‘n nuwe motor bekostig.  Oorwinning! 

Jou werk frustreer jou… die roetine is sieldodend… wanneer alles in plek val, bel iemand jou uit die bloute vir ‘n onderhoud en jy kry die nuwe werk. 'n Deurbraak!

Al wat jy moet doen is om God eerste te plaas;  om Hom te eer en alles in Sy Naam aan te pak.

Wat ‘n leeftyd sou neem om te bereik, kan God binne ‘n oogwink bewerkstellig.  God kan deure oopmaak wat al vir jare lank toestaan. 

Skielik klik alles in plek en gebeur dinge.  Alles het ‘n bepaalde tyd, en daardie tyd breek aan sodra God die bal aan die rol sit.  Klik, klik, klik

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...