Sunday 10 December 2017

Om te glo

Hebreërs 11 : 1  Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

“Sien is glo”, is ‘n gesegde wat jy dikwels hoor of… “Ek wil dit eers sien, voor ek dit glo.”
In God se wêreld werk dinge anders.  Ons glo omdat ons glo, nie omdat ons sien nie.  Die Bybel is as’t ware die geskiedenisboek waar ons leer van God en van Sy verhouding met die mens oor die eeue heen.  Dit is opgeteken en vir ons is dit min of meer hoorsê.  Hoorsê word nie in ‘n hof aanvaar nie, en tog glo ons omdat die Bybel so sê.  Ons het nie self gesien nie… ons was nie daar nie… ons ken nie eens iemand wat daar was nie, maar ons glo nietemin.  Dit is geloof.

Volgens die skrif open geloof deure vir God om te beweeg.  Geloof verskaf God vreugde. 
Ons het almal ‘n mate van geloof ontvang.  Hoe sterk daardie geloof word, met tyd, hang van ons af.  Soos wat jy God vertrou en Hom sien deurkom vir jou, kan jy nie anders as om in geloof te groei nie.  Soms word ons geloof getoets.  Soms gebeur die wonderwerk nie binne die verwagte tyd nie.  Beteken dit God bestaan nie?  Nee!

Dit is verseker nie maklik nie, maar as dit maklik was, sou geloof nie nodig gewees het nie.
Glo jy dat God seëninge oor jou kan uistort op hierdie oomblik?  Nie?  Hoop jy daarop?  Wel solank jy seker is van dit waarop jy hoop, glo jy.

Neem God vandag op Sy Woord… op die vele beloftes in Sy Woord.  Soos wat Hy vir ander deurgekom het, so kan Hy ook vir jou deurkom.  Wanneer jy daardie tree in geloof neem, maak jy die deur vir God oop om ongekende seen op jou te laat neerreën… op elke aspek van jou lewe.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...