Wednesday 31 January 2018

Slawe?

Lukas 17:9 'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?

Dis weer daardie tyd van die jaar… oueraande.  As jou kind goed doen, is dit nie iets waarvan jy sal weet nie, maar as jou kind se punte nie na wense is nie… wel dan gaan sien jy maar die onderwyser.  Vir baie jare moes ek elke oueraand soos ‘n stout kind voor die Wiskundeklas sit en my beurt afwag om die onderwyser(es) te sien.

My kind is een van daardie rare spesies met wie jy nooit hoef te sukkel om sy huiswerk te doen nie.  Inteendeel, as hy ‘n taak kry om te doen, moet dit dadelik afgehandel word.  Hy dryf my soms teen die mure uit omdat hy alles reeds gister gedoen wil hê.  Voor eksamens werk hy ‘n hersieningsprogram uit en hy studeer sonder dat ek hom ooit hoef aan te moedig. 

Wiskunde is egter sy Moses, want Wiskunde is nie iets wat jy kan leer nie.  Of jy verstaan dit, of jy verstaan dit nie.  Volgens sy punte verstaan hy dit duidelik nie.  Moet sê ek het ook my bedenkinge oor mense wat ‘n antwoord kry as hul x en y bymekaartel J.  Op ‘n stadium het hy soveel ekstra klasse in Wiskunde gekry dat hy eendag gemompel het:  “Ek sal al getroud wees, dan moet ek nog ekstra Wiskunde klasse kry.” 

Genadiglik bestaan daar iets soos Wiskunde Geletterdheid – die ‘dom’ kinders se weergawe van Wiskunde, word daar blykbaar gespot.  In Graad 10, betree ‘n wonderwerk my kind se lewe in die vorm van ‘n Wiskunde onderwyseres wat die vermoë het om my kind uiteindelik Wiskunde te laat verstaan.  Hy kon nie ophou praat oor haar nie:  “Mamma moet sien hoe Juffrou vandag vir ons verduidelik het hoe…”  Wat meer is, sy wys hulle dat sy in hulle glo en maak drome in hul wakker wat hul lankal begrawe het.  Sy punte skiet op tot bykans 90%!

So breek oueraand weer aan.  Hy dring daarop aan dat ek sy Wiskunde juffrou gaan sien.  “Hoekom?” wil ek weet.  “Jou punte is mos nou uitstekend.”  “Om dankie te sê!” kom sy antwoord.  So sit ek weereens voor die Wiskundeklas my beurt en afwag.  Toe ek binnestap, begin die onderwyseres dadelik verduidelik hoe sy punte verbeter het.  Ek val haar so beleefd as moontlik in die rede.  “Juffrou, ek is nie hier om te kla nie, ek is hier in opdrag van my seun… om te kom dankie sê.”  Ek kan sien hoe die wind uit haar seile geneem is.  Ons het ‘n lang gesprek en groet mekaar met wedersydse waardering.

Daardie eenvoudige opdrag van my seun, was heel waarskynlik die nodige hupstootjie wat ‘n toegewyde onderwyseres nodig gehad het.  Vir haar is skoolgee nie net ‘n beroep nie… dit is ‘n roeping.  Sy maak ‘n geweldige verskil in die lewens van menige kind.

Nog nooit vantevore het ek ‘n onderwyser(es) gaan bedank nie.  Dit het ‘n jong seun geneem om my oë oop te maak en te onthou dat ons ook erkenning moet gee wanneer iemand dit verdien.  Daar is baie goeie onderwysers en die omstandighede waaronder hulle daagliks werk, is verseker nie ideaal nie.  Hoeveel van ons bedank hulle?  Die teksgedeelte gee ‘n mens baie stof tot nadenke. 

Miskien kan jy hierdie oueraand gaan om een van hierdie slawe te bedank wat so selfloos ons kinders vir die toekoms voorberei.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...