Tuesday 30 January 2018

Rus sag

Eksodus 20:12  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Ons maak so maklik planne sonder dat ons weet wat die toekoms inhou.  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek sê nie ons moet nie vooruit beplan nie.  Ons moet beplan.  Jy moet ‘n begroting hê sodat jy weet wat jy met jou inkomste gaan doen en jy moet prioriteite hê sodat die hoogste prioriteit voorkeur kan geniet.

Ons moet egter daarvan bewus wees dat ons planne dalk nooit sal realiseer nie.

Vandag presies ‘n jaar gelede het ek ons huis verlaat soos elke ander oggend.  Omdat ek in die middestad werk, moet ek vroeg ry (5h00).  Ons blinde kat was nog die oggend onrustig en ek het haar na my ma se kamer geneem, saggies sodat ek haar nie pla, omdat my ma altyd net geweet het hoe om haar te kalmeer.  En toe is ek by die huis uit.  Min het ek geweet dat dit die laaste keer sou wees dat ek my ma lewend sou sien.  Sou ek sonder om te groet (omdat ek haar nie wou wakkermaak nie), haar kamer verlaat het?  Sou ek vir ‘n uur in die verkeer gaan sit het eerder as om tyd met haar deur te bring?  Sou ek haar nie vir oulaas gebel het nie? Nee beslis nie, maar ek het nie geweet nie.

Later die oggend sou ‘n oproep my wêreld in duie laat stort.  My ma is oorlede.  Ek kan nie aan jou beskryf hoe dit gevoel het nie.  Vir altyd sal ek myself verwyt dat ek nie die tyd met haar spandeer het of dat ek nie daar was in haar donkerste uur nie.  Ek moet egter vrede maak, want dit was God se plan.  My planne was anders, maar ek moet berus by Sy planne.  Dalk is dit tog beter dat ons nie weet wat vir ons voorlê nie.

Waardeer jou ouers asb.  Ek moes beide my pa en my ma binne vier maande aan die dood afstaan.  Hul laat ‘n leemte wat niks kan vul nie.

Rus sag my dierbare ma en pa.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...