Thursday 1 March 2018

Bid oor alles


Filipense 4 : 6  Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles..

Waar bevind jy jou op hierdie oomblik?  Is jy biddend of bekommerd? 

Meeste van ons spandeer hopeloos te veel tyd deur ons te bekommer.  Ons bekommer ons oor dinge wat dalk nooit eens sal gebeur nie.  Bekommernis dreineer jou en eintlik sweep dit jou emosies op totdat ‘n perfekte storm binne jou woed.  Dit spoel oor na alle areas in jou lewe totdat dit jou gedagtes oorheers en jou van alle vreugde stroop.

Dalk het jy vanoggend wakker geword en onmiddellik gewens jy kan weer slaap, want slaap bring vergetelheid.  Met ‘n swaarmoedige gees en loodvoete het jy jouself gedwing om klaar te maak vir die dag.  Jy kan aan niks anders dink as dit waaroor jy so bekommerd is nie. 

Matteus 6 : 27 bevat ‘n baie groot waarheid:  Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek?”   Nee, maar steeds bekommer ons en eintlik ly ons gesondheid daaronder en verkort ons lewens.

Daarom maak dit sin om veel liewer jou tyd met gebed deur te bring.  Bekommernis gaan niks aan die situasie verander nie… gebed wel.

Angs het ‘n gunsteling tydverdryf geword.  Dis aansteeklik… as jy bekommerd is affekteer dit almal in jou huishouding en dit is so onnodig.  Dade wek, maar voorbeelde trek.  Maak gebed jou gunsteling tydverdryf en laat dit diegene aansteek wat met jou te doen het.

Moet oor niks bekommerd wees, bid oor alles.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...