Monday 26 March 2018

Kettings


Matteus 19:26  Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

"Die grootste gevaar is nie dat 'n mens misluk nie, maar dat jy tevrede kan wees met tweede beste..."  ¬ Laurence Peter

Wanneer jy met mense gesels kom jy gou agter dat ons almal op die een of ander manier vasgeketting is.   Ons sal altyd bly waar ons is, want ons is te bang om te misluk.

Party is vasgeketting aan die verlede.   Wat in hul verlede gebeur het, keer dat hul vooruitgaan.  Daar is altyd twyfel oor hul vermoëns, want iemand het in die verlede vir hul gesê dat hul nie goed genoeg is nie. 

Ander is vasgeketting in verhoudings.  Eintlik is dit lankal nie meer ‘n verhouding nie.  Dis net twee mense wat mekaar op elke moontlike manier misverstaan en seermaak. 

Dan is daar diegene wat vasgeketting is aan hul werk.  Jy werk omdat jy moet, nie omdat jy wil nie.  Jy troos jouself dat dit darem ‘n inkomste bied, maar daar is geen uitdaging of bevrediging nie.  Soggens moet jy jouself dwing om op te staan en nog ‘n dag in die oë te kyk, wel wetend dat niks opwindend voorlê nie.

Vir nog iemand is dit verslawing. Of dit nou drank, dwelms, pornografie, dobbel, of wat ookal is, is irrelevant.  Jy weier om te erken jy het ‘n probleem, ten spyte van die feit dat dit jou hele lewe oorgeneem het.  Jou verslawing benadeel almal om jou, maar dit pla jou nie in die minste nie. 

Iemand vra my nou eendag of ek al gewonder het hoe dit moontlik is dat ‘n sirkus olifant nooit losbreek van daardie ketting waaraan hy vasgemaak is nie?  Dit is omdat die olifant gekondisioneer is om te glo dat die ketting daar is om hom te hou waar hy hom bevind… dat dit sy lot is en dat hy dit eenvoudig moet aanvaar.  Die olifant is baie sterker as daardie ketting en as hy wou, kan hy maklik die kettings afgooi.

Is dit nie ook met jou kettings die geval nie?  Jy kan jou kettings afgooi, maar jy is gekondisioneer om jou lot te aanvaar.

Jy glo dat jy nie kan wegbreek nie, net soos die sirkus olifant, maar by God is alles moontlik.  “We forget that IMPOSSIBLE is one of God's favorite words” ― Max Lucado  ‘n Swak selfbeeld… g’n probleem vir God, ‘n wankelende huwelik… daar’s hoop by God, jou werksomstandighede…  God kan vir jou onmoonlike deure oopmaak , jou verslawing…God kan jou verlos. 

NIKS is by God onmoontlik nie.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...