Wednesday 7 March 2018

Omarm hierdie tydvak


Psalm 90:10  Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig

Wanneer ons jonk is, is dit moeilik om jouself in te dink hoe dit sal wees wanneer jy oud is.  Dis iewers ver in die toekoms.  En vir ‘n kind van 6 is sy ouers heel waarskynlik ‘oud’.  So ouderdom is ‘n relatiewe begrip.

Soms wens ek, ek het geweet hoe dit sal wees wanneer ek ouer is, want dan sou ek heel waarskynlik my jonger lewe meer geniet het.  Ons wil mos net ouer word, totdat ons eendag besef maar ek is nou oud.  Waar is die tyd heen?

Elkeen verouder op sy eie manier.  Onlangs het ek gehoor van ‘n 99-jarige wat nog ‘n swemrekord verbeter het.  En ek weet van ‘n dame in haar 90’s wat nog elke jaar aan hul kerk se pretdraf deelneem.  Kyk vir Koningin Elizabeth wat nog regeer op haar ouderdom.

As jy vandag oud en afgeleef voel, moenie op jou liggaamlike kragte fokus nie.  Kyk verby die plooie en grys hare.  Sien dit as karakterlyne en die kroon op jou lewe.  Jou liggaam mag dalk deurtrek wees met pynlike arthritis of jy mag dalk ‘n heupvervanging of hartomleiding nodig hê…  Miskien is jy mismoedig omdat jy nie meer so vinnig kan beweeg nie, of dalk is jy bekommerd oor jou geheue.  Niks hiervan sal saakmaak wanneer jy na jou ewige tuiste vertrek nie.  Fokus eerder daarop om jou geestelike spiere te bou. Ons liggame is ‘n aardse tempel, maar eendag sal ons by God in die hemelse tempel aansluit.

Selfs aardse bekommernis oor jou toekoms is tydelik.  Of dit nou bekommernis oor jou gesondheid is, of gesondheid oor jou finansies… dalk is jy bang om alleen oud te word.  Hoe dit ookal sy… God het jou soveel jaar deurgedra.  Hoekom sal hy jou nou in hierdie fase van jou lewe verlaat?

Omarm hierdie tydvak waarin jy jou nou bevind.  ‘n Paar jaar van nou wil jy nie terugverlang en wens jy het dit toe meer geniet nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...