Sunday 11 March 2018

God het 'n ander uitkyk


1 Korintiërs 1:27 En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam,          
Daar word 'n verhaal vertel van Elzéard Bouffier, 'n wewenaar van 55 jaar wat in 1910 in 'n Franse dorpie gewoon het en omring was deur armoede en moedeloosheid. Hy het besluit om iets te doen. Hy het duisende akkers bymekaargemaak en oral geplant. Toe hulle begin wortelskiet, het hy beukehoutbome begin kweek. Toe hulle jong boompies was, het hy berkebome geplant. 

Op 'n dag - terwyl die dood en verwoesting van die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het, het 'n geheimsinnige grys mistigheid op die horison verskyn. Dit was die eike van 1910, onder hulle het die tiener-beukehoutbome gestaan en onder hulle die jong berkeboompies. Bouffier het aanhou plant en teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Franse omgewingsdeskundiges aangekondig dat 'n "natuurlike woud geheimsinnig ontstaan het en floreer in 'n bar, verwoeste omgewing". 

Die verhaal eindig egter nie hier nie.  Dié woud het 'n kettingreaksie veroorsaak. Water het in opgedroogde rivierlope begin vloei. Die wind het saad aangewaai en wilge, palmiete, grasse en tuine het begin opkom. Nuwe mense het daar kom woon en saam met hulle hoop en voorspoed gebring. Elzéard Bouffier het akkers opgetel en geplant, God het die res gedoen.

God kan baie doen met net 'n bietjie. Dawid was maar net ‘n skaapwagter in mense se oë, maar in God se oë was hy veel meer.  Kyk wat het Hy vir Dawid gedoen met 'n slingervel en 'n klippe. Kyk net hoe het Hy vyfduisend mense kos gegee met een seuntjie se middagete. Jou toekoms lyk bar en uitsigloos.  Nie vir God nie.  Hy sal dieselfde wonderwerke vir jou doen!

(Outeur onbekend)

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...