Monday 5 March 2018

Tel jou seëninge


Psalms 37:4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

“Count your blessings and your problems….If your problems outnumber your blessings, Count Again…  Chances are the things that you take for granted were not added up…”  ~ Unknown

Soms dink ek ons kla te maklik. Dalk is dit omdat dit makliker is om te kla as wat dit is om iets aan ons situasie te doen.  Of dalk hou ons daarvan om ‘n slagoffer te wees.  Partykeer kla ons sonder om eens te dink wat ons besig is om te doen.  “O, ek is nie vandag lus vir werk nie… ek is so moeg.”  Dit terwyl daar soveel mense is wat bid vir werk.  Ons kla omdat almal kla:  “Die brandstofprys styg alweer.”  So ons het nog ‘n voertuig waarin ons brandstof kan gooi of ons het nog geld om vir vervoer te betaal… ‘n rede om iewers heen te gaan.”  Ander sukkel om net kos in hul mae te kry.  Miskien kla ons net omdat ons kan en dit ons iets gee om oor saam te praat.

Laat ons eerder begin om ons seëninge te tel.  Wanneer jy besef hoe geseënd jy is, sal jy dalk twee keer dink voor jy kla. Maak nie saak hoe haglik jou omstandighede is nie, daar is altyd iemand in die wêreld, soms nader as wat jy dink, wat slegter daaraan toe is.

Dalk verskil jy vandag van my en reken jy dat jy genoeg rede het om te kla.  Jy voel dalk om vir my te sê dat ek gelukkig is omdat ek geen rede het om te kla, maar jy wonder wat ek sou doen as ek in jou skoene was.  Jy’s reg, ek ken nie jou omstandighede nie, maar God ken dit en Hy hou daarvan as ons, ons vreugde eerder in Hom vind.

As jy kon kies, sou jy jou tyd deurbring saam met diegene wat positief en opgewek is of saam met diegene wat net altyd kla en die negatiewe sy van ‘n saak raaksien?

Ons dien inderdaad ‘n geduldige God… iemand wat nooit moeg word vir ons gekla en gekerm nie, maar dit gee ons steeds nie die reg om oor alles te kla nie.  Iemand het eendag gesê dat jy nie kan kla terwyl jy jou seëninge tel nie.  Dis dalk 'n goeie begin.

"Mag ons na elke teleurstelling 'n vars rede vind om te hoop..."  ¬ Aleksander Solzjenitsin

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...